Viktoria, ‘n Rus vir een van die Ramme

Deel hierdie storie / Share this story

Viktoria Seliverstova(27 jaar) oorspronklik van Vologda, Rusland, was een van die agt Russiese dames wat gekies is om Suid-Afrika toe te kom as deel van die televisiereeks op Via, ‘n Ram vir ‘n Rus.


Om deel te wees van dié reeks was vir haar nog ‘n kans wat sy nie kon laat verby gaan nie. Sy glo dat jy alle kanse wat die lewe vir jou gee met albei hande moet aangryp want ‘n mens weet nooit waar en wanneer jy jou liefde van jou lewe kan ontmoet nie.

Viktoria se beste ervaring tot dusver in Suid-Afrika is die mense wat sy hier ontmoet het. Goeie harte en goeie siele, en natuurlik die natuur wat sy beskryf as die “mooiste” wat sy nog ooit gesien het. Haar slegste ervaring is egter om die heeltyd op jou hoede te wees, waarokal jy is. Sy noem dat in Vologda kon hul enige tyd van die dag of nag loop net waarheen hulle wou en steeds was hul veilig.


Viktoria het nie net ‘n passie vir die natuur en diere nie, maar ook vir die teater. Sy was vir vier jaar deel van die Russiese teater en om op die verhoog te wees het haar gelukkig gemaak. Sy vertel ook dat die verhoog vir haar ‘n spesiale atmosfeer het waarin sy haarself kon wees. Sy is net so lief vir joga en meditasie en sy is op haar gelukkigste as sy kan rondtoer en verskillende lande en kulture kan beleef.


Sy is ook baie lief vir kinders en haar familie en vriende speel ‘n groot rol in haar lewe. Glo sy in liefde met die eerste oogopslag? Dit kan sy nie met sekerheid sê nie, omrede sy nog nooit verlief geraak het met die eerste oogopslag nie, maar sy glo wel daarin dat jy liefde oral kan vind en dat jy wel dadelik kan weet of daardie persoon jóú persoon is.


Viktoria is ‘n vegetarier, maar sy is mal daaroor om hier in Suid-Afrika te kook met al die vars produkte wat beskikbaar is. Nog een van die dinge wat vir haar ‘n goue ster werd is van Suid-Afrika, is die kwaliteit van ons kos en water.

Viktoria in Kaapstad, sy deel dié fotos op haar Instagram- blad.

Sy vertel ook oor hoe sy verlief geraak het op Kaapstad en alles wat hierdie stad bied. Die lekker kos, die mooi berg, die oseaan en al die sportaktiwiteite. Dit is vir haar ‘n perfekte plek om te bly. Sy sal in die wolke wees indien sy ‘n modelkontrak of ‘n rol losslaan in ‘n televisiereeks of fliek.


Sy vertel ook vir ons wat die verskil is tussen Russiese en Suid-Afrikaanse mans. In haar opinie is Russiese mans sagter en totaal en al verantwoordelik vir die vrou terwyl, Suid-Afrikaanse mans meer familie georiënteerd is en ook vinniger volwasse raak as Russiese mans.


Dit wat haar die meeste verras het van Suid-Afrika is dat alles natuurlik en wonderlik is. Viktoria meen dat almal dieselfde is met dieselfde gevoelens. Sy verstaan nie hoekom almal so uitmekaar uit moet leef in so ‘n mooi wêreld nie. Sy verlang haar ouers en diere verskriklik baie en ‘n sonnige nuwe jaar gaan vir haar ‘n nuwe ervaring wees omdat sy nog altyd ‘n “wit” nuwe jaar gehad het vol sneeu.

Dit klink of Viktoria se ondervinding van Suid-Afrika vyf sterre werd is. Hou gerus die reeks ‘n Ram vir ‘n Rus dop op Via Tv om uit te vind of Viktoria haar permanent gaan vestig in Suid-Afrika