Geskenke onder die kersboom… Het jy al ooit gewonder hoe hulle daar kom? Deesdae vertel ouers vir hulle kinders dat hulle verantwoordelik is vir die kleurvolle papier en die skatte wat daarin versteek is. Ons weet wel dat dit glad nie die geval is nie. Ons by Kimberley Online Co. glo daarin om krediet te gee vir die wat dit verdien, daarom het ons besluit om die week met Willie Tesner (60) te gesels oor sy belewenis as Kersvader.

Willie tree al vir die laaste vyf jaar in vir Kersvader vir al sy verantwoordelikhede in Kimberley. Wanneer Kersvader besig is gedurende die Kersseisoen, is dit soms nodig om die gemeenskap te betrek sodat al die kinders om die wêreld daardie spesiale ontmoeting met Kersvader kan hê. Willie Tesner, wat vir Kersvader instaan, deel sy storie met ons.
Hy vertel dat die ou tradisies van Kersvader moet voortleef. Kersvader is baie belangrik vir kinders reg oor die wereld, want hy bring almal by mekaar. Kersvader leer ons van die gees van vrymoedigheid en om te gee vir ander. Hy is bly om ‘n deel te wees van iets spesiaal, iets wat betekenis het en geluk bring.

Hy vertel dat dit baie vervullend is om met kinders te werk en ‘n glimlag op hulle gesigte te sit. Hy se dat elke kind anders reageer die eerste keer wat hulle Kersvader ontmoet. Party kinders is bang en weet nie presies wat om te verwag nie, terwyl ander weer opgewonde is en nie kan wag om te vertel wat hulle vir Kersfees wil hê nie.
Party kinders soek karretjies en sommige die nuutste Barbie of fietse en teddiebere. Elke kind het hulle eie idee van die perfekte geskenk.
Willie sê hy kry soms moeliker vrae as die gewone “ek soek ‘n hondjie vir Kersfees”. Sommige kinders wil weet wanneer Pappa terugkom of waarheen Ouma is. Hy sê sulke vrae raak nooit makliker om te antwoord nie, selfs ouers weet nie altyd wat om te se nie. “Kinders het al gevra hoekom Ma of Pa nie lief is vir hulle nie. Hul het ook al gevra hoekom vader Krismis nie vir al die arm mense geld kan gee sodat hulle ook lekker eet nie.”
Hierdie tipe vrae wys juis watter vlak van vertroue kinders in Kersvader het, en die belangrike rol wat hy in hul lewens speel.
Die boodskap wat Willie wil hê alle kinders van Kersvader moet ontvang, is, “Hulle moet soet wees en altyd vir Mamma en Pappa luister, en om altyd dankaar te wees vir Liewe Jesus vir ons lewens en dat hy altyd by hulle sal bly”.
“Ons herdenk die geboorte van Jesus en dat Kersfees Liewe Jesus se verjaarsdag is,” sê hy.
Hy sê hy sien uit daarna om melk en koekies langs die Kersboom te kry en dat hy ‘n lekker braaivleisie saam met sy kollegas gaan geniet hierdie Kerstyd.
Volg Kimberley Online Co. hier op Facebook.
Lees ook: Kersfees-koekstruif


