Die 16-jarige Annelize Roos is sedert 19 Desember vermis.
‘n Bron na aan die gesin sê hulle is rasend van bekommernis.
Annelize is om 08:00 die oggend van 19 Desember laas by haar huis in Amanzimtoti naby Doon Heights Primary gesien.
Die bron vertel Annelize, wat ‘n baie teruggetrokke kind is, het onlangs as kelnerin begin werk. “Ons het haar aangemoedig om daar te begin werk, juis omdat sy so teruggetrokke is. Ons weet nie of sy moontlik daar vriende ontmoet het saam met wie sy nou is nie. Toe ons haar baas bel om te hoor of hy iets weet, het hy gesê sy het skielik bedank.”
Volgens die bron is Annelize weg met haar tandeborsel en van haar klere. “Sy is dus uit vrye wil hier weg en ons vermoed nie dat sy ontvoer is nie.”
Die bron vertel haar ouers het die oggend nog vir haar koffie gemaak voor sy verdwyn het. “Haar pa het oral in die erf na haar gesoek, want soms gaan staan sy bo by die motorhuis om sein vir haar selfoon op te vang. Maar sy was nêrens te vind nie.”
Die bron sê hulle het haar wel as vermis aangemeld en ook privaatspeurders aangestel om haar te probeer opspoor, maar tevergeefs.
Haar skoolmaats weet ook nie waar sy is nie. Haar selfoon is sedert die oggend van 19 Desember afgeskakel en dus kan hulle haar nie só opspoor nie.
Sy het egter wel met ‘n vriendin oor WhatsApp ‘n video-oproep gehad, en die vriendin kon sien dat Annelize wel in ‘n kamer was. “So sy was darem saam met mense. Dalk is dit iemand wat met vakansie gegaan het, en toe gaan sy saam.”
Die bron sê Annelize het ‘n rooi hemp en ‘n blou denim aangehad toe sy laas gesien is. “Sy het swart hare met pers op die punte. Sy het blou oë, is slank gebou en is om en by 1.68m lank. Sy het oorbelle in beide ore en ook ‘n naeltjiering.”
“Annelize, as jy hier lees, kom asseblief terug huis toe.”
Indien jy Annelize iewers gewaar of iets weet van haar verdwyning, kontak haar pa, Francois Roos, by 082 502 9107.



