John Moon (65) wat die afgelope week pophuise by ‘n Kersmark verkoop het, vertel hoe hy hom na Facebook gewend het in ‘n poging om ‘n dogtertjie wat graag ‘n pophuis wou hê, op te spoor.
Moon, ‘n afgetrede skoolhoof van Laerskool Vredendal, vertel hy het begin om dié pophuisies te maak toe hy een vir sy kleindogter gemaak het. “Mense het begin bestellings plaas en só het dit gegroei.”
By die afgelope Kersmark by Jongensfontein het ‘n klein dogtertjie en haar pa verby die pophuise geloop. “Sy het so na die pophuise gestaan en kyk en vir haar pa gevra: ‘Pappa, het ek genoeg geld in my beursie om ‘n pophuis te koop?’ Sy het toe nie genoeg gehad nie en hulle het weer weggestap.”
Moon vertel toe hy die aand by die huis kom, kon hy die dogtertjie nie vergeet nie. “Ek het self ‘n kleindogter van daardie ouderdom. Haar gesiggie het my bygebly en ek het besluit om te probeer om haar op te spoor om vir haar ‘n pophuis te gee en só haar Kerswens waar te maak.”
Moon sê hy weet nie of die dogtertjie en haar pa vakansiegangers was nie.
“Mense van KwaZulu-Natal en selfs Namibië het my al gebel. Daar is ook mense wat vra vir bankbesonderhede om ‘n geldjie in te betaal vir die pophuis!”
Moon sê een ding wat hy met dié hele storie besef het, is dat daar tog goeie mense in ons land is.
Indien jy die pappa is wat die afgelope week saam met jou dogtertjie na die pophuise gekyk het of jy weet wie dit is, skakel ons by 065 984 5937.

Volg FiND iT hier op Facebook.



