Liggies skitter by DBV se liggiefees

Deel hierdie storie / Share this story

Die liggiefees by die DBV in Bloemfontein lok talle gesinne, ouers wat vir hulle kinders die liggies wil wys, of selfs paartjies wat in die gees van Kersfees sommer ‘n bietjie onder die liggies wil wees.

Reinete Meyer van die Bloemfontein-DBV sê dié oulike inisiatief het vier jaar gelede by die DBV ontstaan. “Ag, in die Kersfeesseisoen is almal mos maar in ‘n vrolike bui. Ons het die een dag in die kantoor gesit en gepraat oor hoe ons geldinsamelings kon doen. Die idee vir ‘n liggiefees het by dié vergadering opgekom en so het ons vier jaar gelede, met baie min, dié tradisie begin.”

Reinete vertel die DBV probeer elke jaar verskillende motiewe met die liggies ontwerp om dit so interessant moontlik te hou. “Ons het ‘n lekker kreatiewe span wat dit moontlik maak!”

Behalwe vir die liggies wat jou sal laat voel asof jy in ‘n feëverhaal is, is daar boonop ook ‘n oulike Kersvader én sy elf-helpertjies. Jy kan foto’s neem saam met Kersvader, vir hom selfs ‘n briefie in ‘n regte ou posbus gooi of saggies vir hom sê wat jy vir Kersfees wil hê…

Werner Botha, opleidingsinspekteur by die DBV, is vanjaar vir die tweede keer Kersvader by dié liggiefees. Hy sê hy geniet hom gate uit. “Die lekkerste deel daarvan is die gelukkigheid van soveel families te sien wat bymekaarkom. Ons is almal soms so gefokus op die geskenke, maar vergeet soms waaroor die feestyd regtig gaan. Familie.”

Hy lag en vertel sommige van die jongspan is maar bang om sommer op Kersvader se skoot te kom sit. “Ek groet hulle maar net baie vriendelik, en waai sommer al van ver af vir hulle. En as hulle na my toe kom, begin ek met iets soos ‘n ‘vat vyf’ of gesels met hulle oor die skool waarin hulle is en wie hulle juffrou is.”

Werner sê dis vir die span by die DBV lekker om ook as Kersvader en sy span (elfies) op te tree. “Die area van werk waarin ons is, is nie altyd baie lekker nie. Dis lekker om as kollegas saam hierdie ding te doen.”

‘n Groot gedeelte van die geld wat die DBV by die liggiefees insamel, gaan vir die diere se mediese sorg. “Mens onthou nie altyd dat baie van die diere deur wrede dinge was en mediese hulp nodig het nie.”

Sy boodskap as Kersvader:

“Mense moet onthou waaroor dié tyd van die jaar gaan. Ons besef nie altyd hoe gelukkig ons is dat ons as familie gesond en in liefde bymekaar kan wees nie. Onthou om sag met mekaar te wees en eerder liefde as geskenke uit te deel.”

Volg Bloemfontein Online Co. hier op Facebook.