Nick van Jaarsveld, wat vir jare lank ‘n bekende Kersfeesvader-gesig in Bloemfontein was en op die ouderdom van 69 oorlede is, sal vir nog jare voortleef op foto’s wat in gesinne se huise hang.
Johnny le Roux, Nick se halfbroer, vertel hoe Nick van ‘n karwag na die oulikste oom vir vele kinders verander het.
“Nick het in sy lewe op ongeskiktheidspensioen gegaan ná hy aanvanklik ‘n probleem met die bloedsomloop in sy bene ontwikkel het,” vertel Johnny. “Hy kon nog redelik beweeg. Hy was ‘n karwag iewers en eendag het iemand hom gekontak en gesê ‘n man het dié oom met die hewige bos baard raakgesien, en dat hy met hom wou praat.”
Dié besigheidsman het toe met Nick in kontak gekom en hom gevra of hy nie vir daardie jaar die Kersvader sou wees nie. “Dit was iewers aan die Weskus,” sê Johnny. “Hulle sou sy vervoer, blyplek en kos vir hom betaal die tyd wat hy daar was. En dis hoe dit begin het!”
Die daaropvolgende jaar het iemand anders hom genader om sy rooi pak aan te trek en by ‘n inkopiesentrum tussen Kuilsrivier en Stellenbosch kindertjies én volwassenes te gaan vermaak.
“Hy het sommer vir so tien dae aaneen daar gaan sit. Hy het natuurlik sy eie baard gehad!”
Nick het in die jare daarna vir glimlagte op vele gesiggies gesorg toe hy by kleuterskole, inkopiesentrums en selfs ‘n vrouevereniging as Kersvader opgetree het. “Hy het soveel kinders se harte gewen. Hy het altyd vir my gesê dit gaan nie vir hom oor die geld wat hy daarvoor kry nie, maar hy doen dit ter wille van die kinders.”
Johnny vertel van een van die goeie herinneringe wat hy saam met Nick het. “Eendag toe sit ons in ‘n koffiewinkel en drink koffie. Daar was ‘n kind wat saam met sy ma verby ons geloop het. Selfs in sy gewone klere het die kind Nick herken. Hy het vir sy ma gesê: ‘Mamma, daar is Kersvader!'”
“Daar was ook ‘n voorval met ‘n baba van twee maande oud. Die baba het vreeslik gehuil, maar sy ma wou graag ‘n foto van hom saam met Kersvader gehad het. Die oomblik wat daai babatjie in sy arms gesit is, het hy opgehou huil.”
Nick het nooit getrou nie, maar het tog in sy lewe die kans gehad om ‘n “kleindogter” te hê. Jodine, ‘n dogtertjie wat Nick as haar oupa aanvaar het, het ‘n baie nou verhouding met hom opgebou.
Haar ma vertel Nick het motors opgepas by ‘n funksie by ‘n skool in Bloemfontein. “Jodine het vir my gesê die oom lyk nés Kersvader. Toe sê hy vir haar: ‘Ho, ho, ho’. En van daar af het hulle mekaar gevind.”
Nick het by Jodine se kleuterskooltjie as Kersvader opgetree. “Sy het so lief geraak vir hom. Sy het hom Oupa Kersie-op-die-koek genoem. Dié twee het begin om elke aand vir mekaar stemboodskappe te stuur. As hy verjaar het, het ons ook vir hom koek en ‘n geskenkie gevat. Hy het later soos familie geraak.”
Johnny vertel Nick se gesondheid het maar agteruitgegaan en hy het in ‘n stadium selfs met krukke geloop. Hy het in die laaste vier jaar baie verswak en was ‘n inwoner by versorgingshuise waar na hom omgesien is.
“Hy was geliefd onder so baie mense,” sê Johnny. “Sy hand was altyd oop vir mense. Selfs al was dit tot sy eie nadeel, hy sou ander steeds help.”
Huldeblyk:
(Oom) Nick, jy was ‘n gewilde gesig op verskillende velde.
Ovaltrack, brandweer, Kersvader.
Met jou afsterwe het soveel mense laat weet hulle ken die gesig van êrens. Selfs skoolvriende. Jy is vir seker ‘n legende.
Dis lekker om staaltjies te hoor uit verkillende oorde en te weet jy was geliefd. Jy het jou siekte met soveel waardigheid gedra en amper nooit gekla nie. Jy het elke kuiertjie waardeer en altyd uitgesien na die volgende keer.
Jou oë het nog boekdele gespreek met ons laaste besoek. En ek weet jy wou so graag met ons gesels.
En die waardering in jou gesig om jou broer nog ‘n laaste keer te kon sien, al was dit per video-oproep, was genoeg vir my om te weet jy was tevrede.
Jy is nou op die beste plek waarvoor enige iemand kan vra. En al het ek gehoop dat jy hier op aarde sou genees, weet ek jy sal dit vir niks verruil om te huppel en sing by ons Hemelse Vader nie.
Volg Bloemfontein Online Co. hier op Facebook.
Lees ook: Feestelike Kersfeesbolletjies



