Johan Kapp (62), huisbestuurder van Huis Vreugde by Athalia, vertel vir ons hoe Kersfees by die aftreeoord gevier word, hoe hulle dit spesiaal maak vir inwoners en wat die spesiale Kersete vir inwoners beteken.
Johan is al sedert 2013, slegs ‘n paar maande na Athalia gestig is, by dié aftreeoord.
Hy vertel baie van die inwoners het geen familie wat by hulle kom kuier nie, en dat hy sy bes probeer om Oukers- en Kersdag vir die inwoners spesiaal te maak.
“Huis Vreugde begin al vroeër in die jaar met herwinning om op dié manier geld in te samel. Ons versier dan my huis mooi, met liggies, ‘n Kersboom, geskenkies en allerhande versierings.”
Hy sê al die inwoners kry ‘n geskenkie, selfs al is dit nie ‘n duur geskenk nie. “Soms is dit sommer benodighede soos ‘n sepie of ‘n onderarm-dingetjie. Soms maak ek self vir die dames juwele, ‘n armbandjie of ‘n hangertjie en ander kere kry ons dit by donateurs.”

Johan vertel die onderwyseresse by Primêre Skool Brandwag, waar hy administrasie doen, het ‘n hart vir Athalia. “Dié jaar het een van die graad 1-onderwyseresse 15 pakkies opgemaak vir die inwoners! Hulle het dit nog nie oopgemaak nie, maar juffrou Lelanie het sommer trane in haar oë gekry toe sy alreeds ‘n briefie van ‘n tannie af gekry het om dankie te sê.”
Hy vertel opgewonde van dié jaar se planne en die spyskaart.
“Op 24 Desember eet ons ‘n lekker groot ‘brunch’. Die aand gaan ek allerhande vingerhappies soos gevulde eiers en toebroodjies maak.” Johan lag en sê sommige van die inwoners bly nie altyd wakker tot 12:00 nie en dat hulle partykeer sommer net daar in hulle stoele aan die slaap raak. “Op Kersdag eet ons ‘n gewone ontbyt. Vir dié jaar het ons ‘n lekker spyskaart met ‘n mossel-, garnaal- en tuna-voorgereg, ‘n gepekelde tong met mosterdsous, soutvleis, gammon en dan slaaie soos ‘n rysslaai, geelperskeslaai en ertjies-en-pereslaai.”

Vir nagereg beplan Johan ‘n uitgeholde waatlemoen gevul met ‘n verskeidenheid van vrugte en ook roomys wat ‘n predikant dié jaar vir hulle geskenk het.
“Ag, party van die inwoners het werklik nie familie wat by hulle kan wees nie. Sommige van hulle het regtig niemand nie.”
Om op sy manier Kersfees vir die inwoners spesiaal te maak, beteken vir Johan baie.

Volg Bloemfontein Online Co. hier op Facebook.
Lees ook: Feestelike Kersfeesbolletjies



