Broer, suster en dogtertjie (2) sterf tragies na brand uitbreek

Deel hierdie storie / Share this story

Renaldo en Natalie van Rooi, en Natalie se 2-jarige dogtertjie, Jessie, is oorlede ná ‘n brand by ‘n huis in Kuilsrivier uitgebreek het.

Amber Grobbelaar, wat vir jare lank vriende was met die twee, vertel van die laaste oomblikke wat sy hulle gesien het.

“Dit was na 23:00 Donderdagaand toe ons die honde hoor blaf het. ‘n Seun hier in die straat het geskree dit brand en ons het uitgegaan om te gaan kyk.”

Dit was die huis twee huise van Amber se huis af.

“Natalie het uit die huis gehardloop gekom en sy het ernstige brandwonde opgedoen. Ek het net gehoor Natalie soek vir Jessie. Al wat ek kon sê, was: ‘Here, wees net met klein Jessie, sy is nog so klein.'”

Kort na Natalie het Renaldo uit die vlamme gehardloop gekom. “Hy was nog aan die brand. Ek sal daardie prentjie nooit kan vergeet nie.”

Amber vertel hulle het op die grasperk gaan sit en vir die ambulans en die brandweer gewag.

“Die straat se mense het eintlik die vuur geblus. Die brandweer sou later klein Jessie se liggaam vind.”

Amber vertel Natalie en Renaldo is altwee in die hospitaal opgeneem. Vrydagoggend, op Oukersdag, om 09:00 is Natalie oorlede. Nie eers ‘n halfuur later nie, is Renaldo ook dood.”

Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie.

“Die mense hier in die buurt se harte is baie seer.”

Natalie laat twee kinders, haar ouers en ‘n boetie agter. Renaldo het ook twee kinders.