Hercul Mitchell (53), oftewel Oom Mitch, is Vrydagmiddag oorlede ná hy op 6 Desember met kolonkanker gediagnoseer is.
Sy vrou en lewensmaat van vier jaar, Shirley Mitchell, sê die kolonkanker het na sy lewer en niere versprei. Hy is Woensdag in die Rosepark-hospitaal geopereer. “Sy organe het ingegee en hy is gister (Vrydag) om 17:00 oorlede.”
Oom Mitch was vir 32 jaar ‘n speurder by die Transvaalweg-polisiestasie in Kimberley.
Hy was ook die stigter en president van die Redliners-motorfietsklub wat in Maart 2015 in Kimberley gestig is.
Shirley vertel Hercul was ook Park-tennisklub se voorsitter, asook van die SAPS se provinsiale span.
Oom Mitch laat sy seun, Hercule Mitchell, sy dogter Chanté Mitchell, stiefseun Michael van Rooyen en stiefdogter Leandri Avenant agter. Hy het ook twee kleinkinders.
“Die familie bedank almal vir al die oorweldigende ondersteuning. My man was ‘n yster, ‘n legende met die grootste hart. Ons gaan hom geweldig mis. Hy laat ‘n ontsaglike groot leemte agter.”
Shirley sê begrafnisreëlings is nog nie gefinaliseer nie, maar die diens sal vanuit die Biker’s Church plaasvind.


Volg FiND iT hier op Facebook.



