‘n Sakeman van Bloemfontein, Dewald Moller, se “hand” is Donderdag saam met sy skootrekenaar uit sy bakkie in sy erf in Gardania Park gesteel.
Dewald, wat die Donderdagaand kort na 23:00 by die huis gekom het, vertel hy was in die bad toe sy krag vir ‘n paar minute afgegaan het. “Ek het niks daarvan gedink nie en het gaan slaap. Toe ek die volgende oggend wakker word, het ek besef my bakkie se ruit is uitgeslaan en my skootrekenaar se sak, waarin my prostese was, is gesteel.”
Dewald sê sy hek was gesluit en die diewe moes deur die heining breek om by sy bakkie uit te kom.
Dewald, die direkteur van sy eie veiligheidsmaatskappy, vertel die diewe het nie eers die vier kameras wat onder die sak gelê het, gesteel nie. “En dié kameras is baie meer werd as die skootrekenaar.”
Hierdie is ‘n artikel uit 16 Desember se uitgawe van Bloemfontein Online Co. Klik hier vir meer.
Dewald se prostese, wat spesiaal van Amerika af ingevoer is, is ongeveer R40 000 werd en hy het dit slegs twee maande gehad. Hy het nié versekering vir die prostese gehad nie, omdat dit R1 800 per maand kos.
Hy het egter ‘n ekstra prostese wat hy nou gebruik en wat hy gedra het voor hy die nuwe titanium prostese gekry het. “Die prostese wat die diewe gesteel het, help my om baie meer fyn motoriese bewegings uit te voer. Omdat dit van titanium gemaak is, kan dit ook nie sommer breek nie. Ek het hom gebruik om mee te werk.”
Dewald vertel die twee prosteses werk op min of meer dieselfde manier, maar dat die voorpunte net verskil en die titanium prostese meer gehark is.
“Daar is niks wat die diewe met die prostese kan doen nie. Dit sal seker maar by ‘n skrootmetaalwerf opeindig, nie dat ek dink titanium op die oomblik enigiets werd is nie.”
Dewald sê hy sal nou maar gereeld by die skrootmetaalwerwe in die omgewing gaan hoor of sy prostese nie miskien daar beland het nie.
Sy ongeluk het in Julie 2020 gebeur. Hy was besig om met ‘n hidrouliese hyskraan veiligheidskameras vir boere in Carltonville te installeer, toe ‘n kragdraad met sy kop kontak gemaak het. Krag van 11 000 volt het deur sy liggaam gegaan.
Dewald se linkervoorarm en twee vingers aan sy regterhand moes afgesit word. Hy het ook ‘n opening in sy skedel wat hy sê hopelik volgende jaar toegemaak sal word.
“Dit was aan die begin maar ‘n redelike aanpassing om te leer hoe om met prostese te werk te gaan. Dit help baie wanneer jy eers besef die prostese is eintlik maar soos ‘n duim en indeksvinger.”
Dewald kan nou ongeveer 85% van die funksies verrig wat hy voor die ongeluk kon doen. “Ek bestuur my eie handratbakkie, kan my skoene vasmaak en my ander hand se naels knip.”
Dewald sê hy het besluit om die saak nie by die polisie aan te meld nie, omdat hy nie dink dat dit die moeite werd is nie.
Volg Bloemfontein Online Co. hier op Facebook.
Lees ook: Vyf verbrande, ontbinde liggame van ontvoerde gesin gevind



