Kotie Arpin het na 55 jaar, met slegs ‘n swart-en-wit-foto as leidraad, haar biologiese familie opgespoor.
Kotie Arpin was 12 jaar oud toe sy in 1975 uitgevind het dat sy as baba aangeneem is. “In ‘n onderhoud met ‘n plaaslike televisieprogram vertel Kotie dat sy besig was om vir eksamen voor te berei toe sy die nuus van haar aanneemma ontvang het. Haar aanneemma het haar ook verbied om uit te vra oor haar biologiese ouers, wat haar net nog seer besorg het.
Sy en drie van haar sussies is by haar ouers weggeneem, en twee sussies is later in haar ouers se sorg teruggeplaas. Daar was geen inligting oor haar ouers of die omstandighede wat gelei het tot haar aanneming nie.
“Op twee van die ou swart-en-wit-foto’s in my baba-album was twee vreemde meisies langs my. Ek moes toe uitvind dit was my sussies. Een van die meisies op die foto het ek as my niggie geken.”
Kotie vertel hoe sy oor die jare gewonder het oor haar biologiese familie. “Ek het maar altyd ‘n leemte in my gehad oor my biologiese familie. Dink hulle aan my op my verjaarsdag? Hoe is Kerstyd by hulle? Waar is hulle? Wat doen hulle? Hoe lyk hulle? Na wie lyk ek?”
Al wat Kotie gehad het om haar met haar soeke te help, is ‘n swart-en-wit-foto met ‘n noemnaam en ‘n moontlike ouderdom.
“Maar moenie die waarde van ‘n foto onderskat nie,” sê sy.
Só het Kotie se soeke na haar biologiese ouers begin en met dié foto van haar en ‘n onbekende dogtertjie as haar sussie, het sy uitgevind dat dieselfde foto in haar ouma se huis gehang het. “My ouma moes dus van my geweet het!”
Volgens Kotie is die aannemingsvorms baie belangrik in jou soeke na jou biologiese ouers.
Sy was deur middel van sosiale media deel van verskeie “soekgroepe” en het oral gevra of iemand van haar biologiese familie weet. Sy het ook intensief stamboomnavorsing gedoen.
Kotie vertel sy was só doelgerig in haar soeke dat haar vriendin geweet het as sy sou sterf voor sy haar biologiese ouers opgespoor het, sy die soektog sou moes voortsit en haar biologiese ouers vertel dat Kotie na hulle gesoek het.
“Na een oproep was ek twee sussies en een boetie ryker en het ek ook inligting gehad oor my ma, pa, kleiner sussie en ouma.”
Kotie het kilometers afgelê om die nuwe boetie en sussies persoonlik te kon ontmoet.
Haar soektog was egter nog nie klaar nie. “Ek was oorstelp van vreugde toe ek by my sussie ‘n foto van ons biologiese ouers gekry het, ahoewel dit ‘n foto uit die sestigerjare was.”
Haar boetie het haar na haar ma, ouma en klein sussie se grafte geneem. “Ek kon by die grafte staan en heel word. Dit was so bestem dat ek op Moedersdag, 12 Mei 2018, by my ma se graf kon kniel. Dit het soveel betekenis aan my lewensverhaal verleen, al was sy al 50 jaar begrawe.”
Die name van die draers op Kotie se ouma se begrafnisbrief het daartoe gelei dat hulle nog familielede, onder andere Kotie se ouma se sussie, opgespoor het.
Regdeur Kotie se storie herhaal sy dat jy nooit moet ophou soek nie. “Elke leidraad lei na ‘n volgende. Moet nooit ophou soek nie.”
Sy vertel dat sy ook maar met verwerping as kind en volwassene gesukkel het. Lees Zané se aannemingsverhaal hier.
Vir Kotie was 2018 se Kersfees en ook haar volgende verjaarsdag vir haar baie spesiaal, omdat sy nie meer hoef te wonder of haar biologiese familie aan haar dink op dié spesiale dag nie. Hulle het haar gelukgewens.
Klik hiér om Kotie se verhaal op YouTube te kyk.
Volg FiND iT hier op Facebook.



