Ma se opoffering sodat dogter (11) kan lewe

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Ma van Gelvandale, wat op 30 Desember haar eie lewe in gevaar gaan stel om haar dogter se lewe te red, sê sy is nie bang nie en dat sy dit in ‘n oogwink sal doen.

Cassidy Joseph (11) was vier en ‘n half maande oud toe sy met ‘n lewensgevaarlike lewersiekte gediagnoseer is. “Die eerste teken dat sy lewerprobleme gehad het, was dat sy maar baie geel was. Haar magie het ook baie opgeswel en later het haar stoelgang so ‘n wit kleur geraak.”

Chantelle vertel twee pediaters kon aanvanklik nie die probleem by Cassidy opspoor nie en hulle kon eers ná sy ‘n derde pediater gesien het, die diagnose kry.

Die siekte waarmee Cassidy gediagnoseer is sirrose van die galblaas (biliary atresia). Die toestand is lewensgevaarlik en die 11-jarige gebruik chroniese medikasie. Dokters het aanvanklik vir haar ma gesê dat sy net twee jaar sou leef.

Chantelle sê Cassidy was op ‘n lang waglys vir ‘n skenker en nou nadat toetse deur dokters getoon het dat Chantelle ‘n perfekte skenker vir Cassidy is, kan Chantelle ‘n gedeelte van haar lewer vir Cassidy skenk. Dié oorplanting sal by die Donald Gordon-hospitaal in Johannesburg plaasvind.

Vir die prosedure neem medici ‘n gedeelte van Chantelle se lewer en plant dit in Cassidy oor. “Onlangse toetse het gewys dat Cassidy se lewer glad nie meer werk nie en nou uitgehaal moet word.”

Die oorplanting sou aanvanklik op 14 Desember plaasvind, maar omdat Cassidy intussen met longontsteking opgeneem is, gaan die span vir eers nie voortgaan met die prosedure nie.

Lees ook: Vermiste Katrien na byna ‘n week opgespoor

“Met elke operasie is daar maar risiko’s betrokke,” sê Chantelle. “Die lewer kan deur Cassidy se liggaam verwerp word. Daarom sal sy vir die res van haar lewe op anti-verwerpingsmedikasie moet wees.

Chantelle sê Cassidy se vergrote lewer en opgeswelde maag maak dit vir haar moeilik om rond te beweeg en sy raak ook vinniger kortasem. “Sy mis ook akademies baie uit en haar skoolwerk ly daaronder.”

“Ek is baie opgewonde om as ma vir my dogter die lewe te kan gee wat sy nooit gehad het nie. Ek het nooit geweet ons is dieselfde bloedgroep nie. In my onderbewussyn is ek bewus van die risiko’s, maar ek gaan in geloof die kans vat vir my kind.”

Volg FiND iT hier op Facebook.