Ronel na meer as 40 jaar op soek na haar aangenome sussie

Deel hierdie storie / Share this story

Ronel Vermeulen (58) vertel hartseer hoe sy na meer as 40 jaar steeds na haar sussie op soek is na haar ma in 1975 gedwing was om haar sussie vir aanneming op te gee.

“My ma wou haar nie opgee nie. Sy was bitter lief vir daardie kind. Maar haar destydse man, wat intussen oorlede is, wou nie hê sy familie moet van haar weet nie en so is my ma forseer om haar baba op ses maande oud te laat aanneem.”

Ronel vertel haar suster, na wie sy nou soek, is as Tanya Hendriks gebore, maar dat sy nie seker is of haar naam intussen verander het nie. Tanya het na Bramley-kinderhuis gegaan na sy vir ses maande van haar lewe by haar biologiese ma gewoon het.

“Ek wil so graag my suster ontmoet en ook hê dat sy haar biologiese ma ontmoet voor sy doodgaan. Dit sal wonderlik wees as ons haar voor Kersfees kan opspoor.”

Ronel se ma, Catharina Aletta (toe Hendriks) is nou 84 jaar oud en woon in ‘n versorgingseenheid in die Strand.

“Ek het ‘n ander boetie en sussie ook. Maar Tanya weet nie van ons nie. Ek het op 13-jarige ouderdom uitgevind ek het ‘n sussie.”

Ronel vertel as sy haar somme maak, moet Tanya nou in haar 40’s wees.

“Ek het nog nooit foto’s van haar gesien nie. Ek weet net van haar omdat die familie my van haar vertel het. Dit sal vir my wonderlik wees om my sussie te ontmoet.”

Ronel sê dis nie vir haar lekker om te weet dat sy ‘n sussie iewers in die wêreld het wat sy nog nie ontmoet het nie. “Dit het my ma ook baie erg oor die jare geaffekteer. My ma het haar in ‘n stadium probeer opspoor, maar omdat haar naam moontlik verander het, is dit baie moeilik. Dis maar nog al die jare ‘n raaisel.”

Volg FiND iT hier op Facebook.

Lees ook: Die pad van ‘n aangenome kind