Graham Dickason is terug in Suid-Afrika na die tragiese gebeurtenis waar sy vrou, Lauren (40), na bewering hul drie dogters vermoor het.
Dickason het einde November foto’s op sy Facebook-blad gedeel waar hy in die Bosveld op ‘n seil lê, asook ‘n foto saam met ‘n bok.
Die Dickason-familie het vroeg in Augustus na Timaru, Nieu-Seeland, geïmmigreer.
Dickson het op 16 September omstreeks 22:00 op sy drie dogtertjies Lané (6) en die tweejarige tweeling, Maya en Karla, se liggame afgekom.
Die gesin het kort voor die gebeure uit ‘n kwarentynfasiliteit getrek na die huis op die hospitaal se perseel, waar Dickason werk.
Volgens die New Zealand Herald was Lauren in ‘n kritieke toestand toe Dickason op die toneel aankom. Sy is per ambulans na die plaaslike hospitaal geneem. Lauren was daarna stabiel genoeg om met die polisie te praat. Sy is van moord aangekla, maar het skuld ontken.
Lauren verskyn op 17 Desember weer in die hof, maar word eers in 2023 verhoor. Dis nog nie duidelik of Dickason die hofverskyning gaan bywoon nie.
Lauren is tans in die Hillmorton- hospitaal se geestesgesondheidsafdeling waar sy volgens die hof behandeling moet ontvang.






