TJ: Goue seun van die Noord-Kaap

Deel hierdie storie / Share this story

TJ van der Walt (17) ’n naelloper of “sprinter”, gebore in Bloemfontein, grootgeword op Hopetown, Noord-Kaap, is ’n plaasseun met groot talente. Hy is tans ’n matriekleerling aan Hoërskool Hopetown en hierdie jaar het sover vir hom groot uitdagings gebied, waarvoor hy nie vir een teruggestaan het nie.

’n Mens kom sommer gou agter dat hierdie jong man se voete plat op die aarde is en dat die regte beginsels diep in hom geanker is. Sy liefde vir atletiek het in sy ouerhuis begin waar almal atleties is.  

Hy het ’n paar afrigters – elkeen help op ’n verskillende manier, byvoorbeeld met kondisionering, maar Ma Maryna is sy hoof afrigter. Hy volg ’n streng oefenprogram en vertel dat die moeilikste deel van sy oefenprogram virs eker net voor ’n byeenkoms is. Dan moet hy sekere kombinasies voluit oefen. 

Tj oefen gereeld

“Dit raak dan rof, maar elke herstelsessie is vir my dan die lekkerste! Toe ek in 2019 die o/15 400 m op die SA’s gewen het, was sover my hoogtepunt, omdat ek agt maande voor die byeenkoms my enkel gebreek het.”

TJ is gekies om Suid-Afrika by die Jeugspele in Lesotho te verteenwoordig en is tans besig om daarvoor voor te berei, sowel as om die matriekeindeksamen te skryf.

“Dit is vir my ’n groot eer om as een van Suid-Afrika se Top Jeugatlete genoem te word.”

TJ is darem nie altyd besig om te oefen nie, en hou daarvan om altyd besig te wees, tyd te spandeer saam met sy vriende en vis te vang. Sy grootste inspirasie is Michael Johnson, ’n afgetrede Amerikaanse naelloper wat in sy loopbaan vier Olimpiese goue medaljes asook 56 goue medaljes by wêreldkampioenskappe verower het.

TJ se grootste droom is om oor drie jaar aan die Olimpiese Spele deel te neem, hy is reeds besig met voorbereiding daarvoor.

Sy raad aan ander atlete?

“’n Klein begin is beter as geen begin nie. Werk hard, niks kom vanself of maklik nie. Wees altyd nederig en motiveer ander.”

Volg Kimberley Online Co op Facebook hier.

LEES OOK: Cyril Ramaphosa: Mans moet eed aflê om nie te verkrag, leed aan te doen