Panayiotou-moordsaak: Laaste beskuldigde gevonnis

Deel hierdie storie / Share this story

OOS-KAAP. – Die laaste beskuldigde in die Panayiotou-moordsaak is Vrydag 26 November 2021 tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

Panayiotou se moord

Jayde Panayiotou (29), ’n Kariega-onderwyseres, is op 21 April 2015 buite haar huis in Gqeberha (Port Elizabeth) ontvoer. Haar liggaam is die volgende dag op ’n plaas in Rocklands gevind. Sy is drie keer, in die rug en in die kop, geskiet.

Luthando Siyoni is die eerste verdagte wat deur die Valke in 2015 gearresteer is vir Panayiotou se moord. Hy is in die hooggeregshof hier deur regter Vinesh Naidoo tot lewenslange tronkstraf vir die moord gevonnis.

Huurmoordenaar

Anelisa Ngcakani, woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag, sê Siyoni het erken dat hy ‘n rol in die verkryging van ’n huurmoordenaar gehad het. “Hy het ook vir Christopher Panayiotou, Panayiotou se man, betrek as die een agter die plan om sy vrou te laat vermoor.

R80 000 vir moord

“Siyoni het beken dat hy vir Sizwezakhe Vumazonke gekry het as huurmoordenaar, maar Vumazonke is reeds in September 2016 dood, vóór sy verhoor begin het.”

Ngcakani sê Christopher Panayiotou het Siyoni R80 000 betaal, wat op sy beurt na bewering die helfte van dié bedrag vir Vumazonke betaal het vir die moord op Panayiotou.

LEES OOK: Vrou verkrag verstandelik gestremde man

Staatsgetuie

“Siyoni het in 2016 in die oorspronklike verhoor ’n staatsgetuie geword, maar hy is as ‘n vyandige getuie verklaar. Hy is in Mei 2018 weer vir moord in hegtenis geneem en is sedertdien in aanhouding. Christopher Panayiotou het tydens Siyoni se verhoor ’n staatsgetuie geword en beken dat hy sy vrou vermoor het.”

Simpatie

Regter Naidoo het voor die vonnisuitspraak sy simpatie uitgespreek met die wyse waarop Panayiotou haar lewe verloor het en die vrees wat sy moes gevoel het toe sy ontvoer is. Hy het verder Siyoni se aansoek om verlof om teen die vonnis te appelleer van die hand gewys.

Die beskuldigdes

Christopher Panayiotou is in November 2017 lewenslange tronkstraf opgelê. Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko, twee mans wat ook ‘n rol in Panayiotou se moord gespeel het, is in November 2017 gevonnis. Nenembe is tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir moord en ‘n bykomende 15 jaar vir roof. Sibeko is tot 15 jaar gevonnis vir sameswering om moord te pleeg.

Volg FiND iT op Facebook hier en lees meer artikels in Afrikaans hier.