Jy kan vergeet van uiteet en vlieg as jy nog nie ingeënt is nie. Persone wat nog nie ingeënt is nie, moet dadelik toegang tot restaurante, busse en vliegtuie verbied word.
Persone mag net toegelaat word om hospitale toe te gaan, kruideniersware te gaan koop en sekere staatsdienste te bekom.
Business for South Africa (B4SA) pleit vir hierdie maatreëls na die ontstaan van die nuwe B.1.1.529-variant, en die dreigende vierde golf van Covid-19 om lewens te red en ernstige inperkingsbeperkings oor die komende vakansietydperk te vermy.
Martin Kingston, voorsitter van B4SA, sê: “Ons moet vinnig beweeg na ‘n situasie waar slegs persone wat ingeënt is toegelaat moet word om in busse, taxi’s en vliegtuie te reis, of om te kan uiteet in binnenshuise instansies soos restaurante en tavernes. Dit is in ooreenstemming met wêreldwye beperkings en gebaseer op die wetenskap rakende lugsiektes. Ventilasie en maskers bly belangrik, maar ons moet nou kyk om ‘n verdere laag beskerming af te dwing.”
B4SA wil ook hê die aantal toegelate persone wat binneshuis en in die opelug byeenkomste bywoon, verminder moet word. Dis tans onderskeidelik 750 en 2 000.
Kingston sê hoewel wetenskaplikes nog nie uitsluitsel gegee het oor die aansteeklikheid van die nuwe Omikron-variant nie, voel hy dat entstowwe steeds sal help met die vermindering van hospitalisering en sterftes.
B4SA doen ook ‘n beroep op alle werkgewers om veilige werksomgewings vir hul werknemers en kliënte te verseker, wat in baie gevalle die beperking van toegang tot ingeënte individue en die implementering van entstofmandate waar moontlik moet insluit.
“Suid-Afrika kan nie meer persoonlike of ekonomiese pyn bekostig nie,” sê Kingston. “Ons het ‘n verantwoordelikheid om onsself en ons gemeenskappe te beskerm, en om beide lewens en lewensbestaan te beskerm.”
Volg FiND iT hier op Facebook.



