Gesondheidsowerhede in Botswana het Donderdag aangekondig dat vier gevalle van ‘n nuwe Covid-19-variant nou bekend as Omikron aangemeld en op 22 November vanjaar aangeteken is.
Die vier gevalle is opgespoor onder reisigers wat SARS-COV-2 positief getoets het op roetine-voorreistoetse, het die koördineerder van Botswana se presidensiële Covid-19-taakmag, Kereng Masupu, in ‘n verklaring gesê.
“Die varianttoetse is uitgevoer as deel van die roetine toetsing van SARS-COV-2, soos voorgeskryf in ons Covid-19-reaksieplan,” het Masupu gesê en bygevoeg dat die voorlopige verslag aan die lig gebring het dat al vier die persone ingeënt was teen Covid-19.
As deel van die voortgesette ondersoeke na die virus om die plaaslike oordrag daarvan vas te stel en te beperk, het Masupu gesê dat kontakopsporing noue kontakte aan die lig gebring het wat tans op hul resultate wag en die publiek sal ingelig word oor die uitslag. Die aanvanklike ondersoeke oor die virus het vasgestel dat die nuwe variant ‘n groot aantal mutasies het, in vergelyking met die plaaslik oorheersende Delta-variant, het hy gesê. “Wat dit beteken, is nog onduidelik en word ondersoek,” het Masupu gesê.
Intussen het gesondheidsowerhede in Botswana bewerings wat die nuwe variant met die MIV-positiewe status van die deelnemers verbind, verwerp.



