‘n Tiener is doodgeskiet en nog twee vroue gyselaar gehou gedurende ‘n drama wat Saterdagaand net buite Kimberley afgespeel het.
Kapt. Tessa Jansen, woordvoerder van die polisie in die Noord-Kaap, het gesê drie mense is na bewering omstreeks 21:20 op ‘n plaas op die R64 tussen Kimberley en Boshoff gyselaar gehou.
Met aankoms op die toneel het die polisie twee mans gevind wat beweer het dat ‘n familielid ‘n tiener met ‘n geweer geskiet het en dat nog twee vroue gyselaar gehou word.
“Die polisieonderhandelaar en TRT is geaktiveer en met hul aankoms is hulle na ‘n verdagte, ‘n 40-jarige man, verwys. Hy was buite die huis.”
Dit is nie duidelik hoe die vroue uit die gyselaarsituasie vrygelaat is nie. Die polisie het ‘n vuurwapen, wat versteek is, gekry en het ook op die tienerseun met ‘n wond aan die bors afgekom.
Die tiener is deur paramedici op die toneel dood verklaar. Dit is nie duidelik of hy ook gyselaar gehou is nie. “Die polisie ondersoek ‘n saak van moord, sowel as regsverydeling.
Twee mans is in hegtenis geneem en sal in die Kimberley-landdroshof verskyn.
Volg FiND iT op Facebook hier en klik hier om meer artikels te lees. Laai ook ons toep hier af.



