107 kinders van Angel Arms in Bloemfontein gaan vandag die geleentheid hê om ‘n ete by die Spur te geniet.
Johan Bouwer, wat optree as woordvoerder vir die geleentheid, vertel hoe ‘n privaat persoon wat graag anoniem wil bly, met die gedagte gekom het dat hy vir die kinders by Angel Arms dié feestyd iets wil gee wat hulle onder normale omstandighede nie sou kry nie.
Angel Arms is ‘n liefdadigheidsorganisasie wat minderbevoorregte kinders in Bloemfontein van noodsaaklikhede voorsien. Hulle is afhanklik van skenkings van die publiek en gee ook gereeld klere wat aan hulle geskenk word, aan die kinders en hulle ouers.
Simoné, stigter van Angel Arms, vertel sy het Angel Arms ongeveer ses maande gelede gestig en sedertdien doen hulle alles in hulle vermoë om die kinders ten minste een maal per dag van kos te voorsien.
Bouwer sê ‘n mens vergeet so maklik hoe swaar ander mense kry. “Party van ons is so gemaklik. Jy gaan huis toe, maak die yskas oop en eet wat jy wil eet. Daar is soveel mense wat swaarkry en soms net een snytjie brood per dag het om te eet.”
Angel Arms voorsien kinders van enige ouderdom tot sewentien van kos.
“Ons wou vir hulle iets gee wat hulle nié in die feestyd gaan kry nie. Ons wou vir hulle die geleentheid gee om iets spesiaals te ervaar.”
Die kinders is baie opgewonde en daar is selfs ‘n bussie gereël om die kinders Spur toe te neem. Johan vertel van die eienaar by die busmaatskappy wie se hart onmiddellik oopgegaan het toe hy gehoor het waarvoor hulle die bussie wil huur. Hy het die kostes van die bussie baie minder gemaak.
Johan sê die bussie ry twee maal om die 107 kinders en hulle 15 oppassers, wat verantwoordelik sal wees vir die kinders, Spur toe te neem.
Simoné vertel liefdadigheid is maar nog altyd ‘n groot liefde vir haar. Sy het destyds die Boelieblik begin, maar moes weens persoonlike redes eers wegbreek. “Omdat dit maar ‘n groot liefde vir my is, het ek Angel Arms begin.”
Behalwe dat Angel Arms van enige skenkings van die publiek en sosiale media afhanklik is, hou hulle ook fondsinsamelingsprojekte soos ‘n blikskud op 27 November.
Oor die anonieme borg wat die kinders vir ‘n ete by ‘n restaurant neem, sê Simoné: “Dis regtig wonderlik. Ons het nie gedink dit sou met ons gebeur nie. Dis ‘n lekker ding vir die kinders om in die feestyd na uit te sien. Hier is regtig kinders wat 16 jaar oud is en nog nooit eers in ‘n restaurant was nie!”



