DURBAN. – ’n “Tradisionele geneser” van KwaDabeka is in die Pinetown-streekhof skuldig bevind aan verkragting en ontvoering.
Mandla Dlamini (36), wat homself as ’n tradisionele geneser voorgedoen het, het sy eerste slagoffer in September 2019 in ’n taxi na Port Shepstone ontmoet.
Reiniging
Kapt. Nqobile Gwala, polisiewoordvoerder, sê Dlamini het belowe om ‘n reinigingseremonie by die slagoffer se huis uit te voer.“ Nadat die ‘reiniging’ gedoen is, het Dlamini die slagoffer se familie oorreed om haar saam met hom na die strand in Durban te laat gaan waar hy verdere “reinigings” in die see sou doen. Ná die tweede “reiniging” is die slagoffer na Dlamini se huis in Claremont geneem waar sy ‘n tradisionele konkoksie gekry het om te drink.
LEES OOK: Oupa verkrag kleindogter
Verkragting
“Ná sy die konkoksie gedrink het, het sy duiselig begin voel. Toe sy haar bewussyn herwin, het sy besef sy is verkrag en het sy ‘n verkragtingsaak by die SAPD op KwaDabeka geopen.”
Tweede slagoffer
Gwala sê Dlamini het dieselfde modus operandi op ’n tweede slagoffer (27) van Port Shepstone gebruik. “Die tweede slagoffer was vir dae in Dlamini se huis toegesluit. Sy het daarin geslaag om te ontsnap en het toe ook ’n saak van verkragting by die KwaDabeka-SAPD geopen.
Skuldig
“Die sake is deur die Pinetown-streekhof aangehoor, wat Dlamini gevolglik skuldig bevind het op beide aanklagte van verkragting en ontvoering.”
Dlamini is tot twee keer lewenslange tronkstraf, asook ‘n bykomende vyf jaar tronkstraf, gevonnis.
Volg FiND iT op Facebook hier en lees meer artikels in Afrikaans hier.



