Die Avonture van Skapie-Mê bekendgestel

Deel hierdie storie / Share this story

Die 42-jarige Perle du Plessis, kinderboekskrywer en rekenmeester, se nuutste boek, Die Avonture van Skapie-Mê, is onlangs bekendgestel.

Dié eggenoot en mamma van drie pragtige kinders, Jenna (13), Mark (12) en Dale (10), vertel sy wou nog altyd kinderboeke skryf en vertel haar fokus is om vir kinders en ouers ‘n platvorm te skep waar hulle oor hul emosies kan gesels.

Perle is met Lyndon du Plessis getroud en alhoewel sy in Keimoes in die Noord-Kaap gebore is, woon sy al vir 18 jaar in Bloemfontein.

Sy vertel hoe haar liefde vir skryf ontwikkel het. “Ek het eers begin blog en wou nog altyd my eie kinderboeke skryf, veral oor lesse wat ek wil hê my kinders moet van ‘n jong ouderdom af leer. Met die inperking het ek tyd gekry om die stories neer te skryf. Ek het my eie Facebook-blad, Welgeskape, geskep waar ek nou lekker met ander boekwurms my liefde vir lees kan geniet!”

Sy vertel van die baie lewenslesse wat sy wens sy as ‘n jonger “self” gehad het. “Om te leer om jou eie emosies te verstaan en uit te druk, is van onskatbare waarde. Ons grootmense, kort self baie oefening as dit kom by emosies verwoord!”

Perle vertel hoe Die Avonture van Skapie-Mê in haar hart gebore is tydens die inperking. “Ek meen, wie kan nie vir ‘n skapie lief wees nie? Soos ek vir Skapie-Mê liewer geword het, het hy maats gekry, Maatjie-Mê en Nefie-Mê!”

Die talentvolle kunstenaar Stephanie Kilian, ‘n juffrou en ook Perle se vriendin, het die illustrasies vir Perle se boek gedoen. “Sy het die stories van my hart kom teken!”

Perle vertel hoe sy tydens die inperking haar stories vir ‘n bekende uitgewer gestuur het, maar dat hulle haar laat weet het dat haar tipe stories nie nou hulle fokus is nie. “Ek het toe besluit dat my stories vertel moet word. Ek het my spaargeld gebruik en hier is ons vandag! Ons kan nie toelaat dat terugslae in die pad van ons drome staan nie.”

Kinders tussen die ouderdom van 4 – 10 jaar sal Perle se boeke geniet vir voorlees of self lees, maar die lessies het geen ouderdomsbeperking nie.

Die Avonture van Skapie-Mê is drie stories sterk, wat in Afrikaans en Engels beskikbaar is. Die lewenslesse wat in die boeke die temas is, sluit in die waarde van hou by die reëls, positiewe selfspraak/selfbeeld, wees gemaklik met verskille.

“Ek kan nie meer weggee nie, julle moet self lees,” sê sy. “Jy sal met my saamstem dat ouers en kinders die lesse kan waardeer, sonder dat iemand vir jou preek.”

Perle sê Stephanie is reeds besig om Skapie-Mê se vierde avontuur te illustreer. Hulle beplan om dié boek in Maart 2022 bekend te stel. Sy sê mense kan ook uitsien na ‘n nuwe reeks oor ‘n donkie.

Perle en Lindon lees graag. Sy sê hulle sukkel, soos ander mammas en pappas, om hulle kinders te oortuig dat ‘n neus in ‘n boek veel lekkerder is as ‘n neus voor die skerms. Sy vertek hoe hulle as gesin egter saam stories vir mejaar voorlees. “En dan lag ons lekker saam!

Ek hoop dat die kort stukkies soveel mooi herhinneringe sal skep dat ons wel eendag met boekwurms sal opeindig!”

Perle as ek vra wat sy in haar vrye tyd doen: “Vrye tyd? Vir ‘n ma van drie is die waarheid dat ek heeltyd probeer om almal op hulle regte plekke op die regte tyd probeer kry en as ek dit reggekry het, haal ek diep asem en probeer iets mooi van daardie oomblik onthou.”

Haar raad aan ander opkomende skrywers:

“Skryf jou storie! As dit nodig is, publiseer die self! As jy bang is, bel my om jou woema te gee! Daar is plek vir ons almal se stories!”

Volg Bloemfontein Online Co. hier op Facebook.