Die 32-jarige mamma Nadine Pretorius vertel van die pad wat sy en haar dogtertjie, Ané, stap sedert sy op 27 weke vroeg gebore en 100 dae in die neonatale eenheid van die hospitaal deurgebring het.
Ané is nou drie jaar oud en Nadine beskryf haar as ‘n “klein wonderwerkie”. Alhoewel Ané steeds doeke dra, kan sy al ‘n paar woordjies praat, kruip en ontwikkel sy kognitief baie goed.
“Ané het al in soveel mense se harte geklim. Die dokters het gesê sy sal nie haar eerste jaar oorleef nie en neuroloë het gesê sy sal ‘n pap babatjie wees en bedlêend wees.”
Ané is op 22 November 2018 op 27 weke gebore en het ‘n skrale 980 g geweeg. Toe sy vyf dae oud was, is Ané met NEC gediagnoseer. Nadine vertel dis ‘n “kiem” wat vroeggebore babas opdoen, omdat hulle dermpies nog nie heeltemal ontwikkel is om melk te kan verteer nie.
“Op dag 25 was Ané reeds in ‘n ernstige geveg om aan die lewe te bly,” vertel Nadine. “Sy is aan ‘n ventilator gekoppel en moes ‘n opehartoperasie ondergaan.”
Tien dae ná die operasie het dokters ook besluit dat Ané dermchirurgie nodig het omdat haar derms baie ernstige skade opgedoen het. Nadine vertel die operasie is gedoen en daar was soveel skade dat Ané nie veel van haar derms oorgehad het nie.
“Ané het in Februarie 2019 ‘n permanente stoma gekry. Kort voor lank was sy weer in die hospitaal omdat haar lyfie nie enige voedingstowwe wou opneem nie. Ons skryd het vir die res van 2019 geduur en Ané was 90% van die tyd in die hospitaal omdat haar lyfie nie voedingstowwe wou opneem nie en sy gereeld gedehidreer het.”
Nadine vertel in dié stadium het Ané reeds voeding deur middel van ‘n voedingspypie in haar neusie ontvang.
In November is Ané op TPN geplaas. Sy het op die ouderdom van een jaar maar 5 kg geweeg.
“Ané is stadig aan voedings voorgestel, maar na vier maande in die hospitaal het ons besef dat sy konstant vloeistowwe moet kry om te keer dat sy dehidreer.”
Nadine vertel hoe hulle haar voedings, die hoeveelhede en haar medikasie aangepas het, maar dat niks gehelp het om die infeksie te beveg nie.
Vandag is Ané op langtermyn binneaarse voeding na sy met dermversaking gediagnoseer is.
Nadine vertel Ané was nog nie vir een Kersfees of verjaarsdag by die huis nie, maar altyd in die hospitaal.
Nadine, wat ‘n enkelmamma is, vertel dat sy bevoorreg is om van die huis af te kan werk. “As Ané goed genoeg voel, neem ek haar vir die oggend skool toe en dan kan ek van die kantoor af werk. Andersins werk ek maar van die huis of van die hospitaal af.”
Nadine vertel alhoewel haar ouers baie ondersteunend is, Ané se mediese rekeninge baie hoog is. Haar maandelikse medikasie alleen kos R98 000.
Indien jy miskien ‘n bydrae wil lewer om te help om Ané se dag-tot-dag mediese uitgawes te dek, hier is Nadine se bankbesonderhede.
Rekeningbesonderhede
Naam van bank: Standard Bank
Tak: WESTGATE
Takkode: 6641
Rekeninghouer: MISS NADINE N PRETORIUS
Rekeninghouer: 42 140 296 2
Tipe rekening: CURRENT
SWIFT-kode: SBZAZAJJ



