Stanley Cierenberg (49), skrywer, digter, aktivis en rebel, deel met ons een van sy gedigte wat hy in die Betlehem-landdroshof tydens die Horner-moordverhoor geskryf het.
Die twee beskuldigdes in die Brendin Horner-moordverhoor het in die hof verskyn.
Cierenberg vertel hy is gebore op Ficksburg in die Oos-Vrystaat.
“Daar waar die sandklip diep in my siel lê,
waar die Maluti-berge in sy hart kom kruip en daar nes kom skop en waar elke boer ‘n stukkie van die heelal is, elke boervrou ‘n ster is en elke kind deel van die Melkweg.”
So diep lê sy respek vir mens, boer en natuur.
Hy lyk dalk bietjie vreemd met sy geïnkte lyf vol tatoeëermerke, maar elke tatoeëermerk vertel sy eie storie, sê Cierenberg met ‘n glimlag.
Cierenberg se twee digbundels, Vaderland en Moedertaal, bevat gedigte en stories waarvan uittreksels op sy lyf getatoeëer is.
Op sy arm is die woorde: “My lyf vertel ‘n stille storie”. Cierenberg verduidelik dat wanneer iemand sy keel die dag moet afsny, sal sy lyf nogsteeds die praatwerk doen. Op sy voorarm is die woorde, respek, agting en aansien geïnk.
Cierenberg het ‘n groot liefde vir sy taal, Afrikaans, en kultuur.
Cierenberg vertel met trots dat sy jongste tatoe die FAK se embleem is wat met ‘n rooi vlam ingekleur is en daardie embleem sit teen sy hart, die seerste plek op ‘n mens se lyf om ‘n tatoeëermerk te kry. Hy verduidelik dat dit die vlam van sy taal en kultuur is en altyd sal brand.
In sy skryfwerk asook op sosiale media vertel hy, sal hy nooit foto’s of enige erkenning van enige plaasmoordenaar of skurk plaas nie. “Hulle verdien nie my woorde nie.”
Maar tog sal hy ‘n sin of twee in die gedig aan hulle afstaan om te sê: “Jou tyd is naby. Die blinde sambok gaan jou slaan.”
Cierenberg ry graag met sy BMW GS die land vol, op soek na stories en om ‘n trooswoord vir ‘n slagoffer of twee te gaan afgee. Sommer net so vinnig. Dis nooit lang kuiers nie.
“My siel en oë doen die praatwerk, want stilte is ‘n luukse,” vertel hy verder.
Cierenberg is nie net ‘n aktivis teen plaasmoorde wat met groot ingekleure borde en slagspreuke rondloop en geraas maak nie, maar wat stil-stil instap en vir elke mens ‘n engel kom afgee, want ons moet almal engele hê.
“Ons as volk het klaar opgestaan en is besig om te dans, die dans van oorwinning, ons moet net glo.”
Hiermee dan sy onlangsste gedig oor die Horner-moordverhoor.
DIE HOF
BETHLEHEM
2021/11/16
So paar myl uit die dorp het ek op ‘n sandklipberg gaan sit.
Ek het ‘n baie ernstige saak by die Engele gereport.
Watter engel moet ek more saamvat? Het ek gevra.
Stilte.
Watter engel moet ek more saamvat? Het ek ‘n tweede keer gevra
Stilte
Toe die son anderkant die populierbos intrek, kom die antwoord by my op…sommer net so vinnig en klaar.
Die houtbankies in die hof is hard.
Woorde word gepraat maar spat
teen die dak vas, tot die niks.
Net bokant die judge se kop gaan
sit ‘n arend en langs hom ‘n valk
In die hofsaal vlieg ‘n aasvoël van
die ooste na die weste…heen en weer.
‘n Kraalogie kom sit op my skouer en
fluister:
“Die Engele het die voëls saam met jou gestuur,
Valk en arend gaan die kranskakkers wat
koponderstebo in die beskuldigdebank sit
se oë uitpik, hulle harsings op die ashoop loop gooi,
en dan sal die aasvoëls hulle harsings op die ashoop loop gooi,
en die Engel van Regverdigheid sal die res doen.”
“Dankie, Kraalogie,” fluister ek
Ek het stip na die twee in die beskuldigdebank gesit
en kyk. My kyk was met die doel om diep te kyk, so
diep dat dit sny.
Die een het sy kop laat val en die ander een se rug
trek krom.
My oë bly kyk, sonder om te knip. Valk en arend fladder nader, pik die twee se oë uit, aasvoël kom verby en ruk hulle
harte uit..hulle hartklop-polsslag word stadig…stadig… stadig… dan niks.
Die Engel van Regverdigheid gooi haar vlerke oop en skreeu:
“Julle dink ons sing in ‘n weeshuiskoor. Die wat ore het, moet nou hoor.”
Toe weet ek net… Toe weet ek.



