Die 32-jarige André Bornman, geliefde prokureur van Van Wyk & Preller, vertel hoe hy al van laerskool af ‘n prokureur wou word omdat hy geweet het dit hom in ‘n posisie sou plaas om ander mense te help.
André woon al sedert sy geboorte in Bloemfontein en het dus in Bloemfontein grootgeword.
Hy het in 2013 as kandidaatprokureur by Van Wyk & Preller begin werk en is in 2016 as prokureur van die Hoë Hof in die Vrystaat toegelaat.
“Ek het in 2019 direkteur geword by Van Wyk & Preller en is al agt jaar by die firma.”
Hy vertel hoe hy as laerskoolkind al in die rigting van die gereg wou beweeg. “My oupagrootjie was die heel eerste balju in Bloemfontein en dit het my geïnspireer om in dié rigting te beweeg.”
André hanteer meestal siviele en komersiële litigasie in die hoë- en landdroshowe en hy vertel hy het ‘n groot passie vir egskeidings en kontraktuele dispute.
André sê hy moet homself gereeld herinner om niks persoonlik op te neem nie. “Die grootste uitdaging is om niks persoonlik op te neem nie, veral wanneer jy met mense werk wat reeds hoogs emosioneel is oor hulle sake.”
Hy sê egter dat hy die meeste van die tyd ‘n middeweg kry om sy kliënte gerus te laat voel, al is hulle soms aan die korter end.
“Wat ek anders doen, is om altyd daar te wees vir my getroue kliënte en ek het ook baie gou geleer om met verskillende mense te werk.”
André geniet dit om in sy vrye tyd tyd saam met sy kosbare familie en vriende deur te bring. “Ek geniet dit ook om te draf, inspirerende boeke te lees, valskerm te spring en sommer in die natuur te wees.
“Ek dink dit sal altyd moeilik wees in ons rigting, maar dit is belangrik om van die eerste ontmoeting met jou kliënt die grense duidelik te stel sodat jy nie net vir daardie klient die beste aandag op sy of haar saak kan gee nie, maar aan al jou kliënte.”



