Bankier met ’n liefde vir koffie

Deel hierdie storie / Share this story

Julie-Anne Venus Valentine (46), ’n bankier by ’n suksesvolle finansiële instansie in die stad, glo die lewe is te kort om jou figuur dop te hou en eet lekkernye voor bedtyd.

As gebore Kimberliet, spog sy met met twee dogters, Crystal (24) en Cadrian (9), asook twee kleinkinders Rylan and Payton. Haar familie is haar alles.

“Ek het nog nooit gedroom ek sal ’n bankier word nie, maar ek geniet dit vreeslik. My ouma het altyd gesê: ‘As jy iets doen, doen dit ordentlik.’”

“My ma het weer altyd gesê: ‘Word ’n verpleegster of ’n onderwyser, jy sal nooit verkeerd gaan met een van daai professies nie.’ En vandag se ek dit nou vir my dogters.”

 Julie-Anne vertel sy drink vier koppies koffie in die oggend en hou van lekkernye.

“Ek hou daarvan om met familie en vriende te kuier wat nou ook al familie geword het. Ek is baie lief vir koffie en kan omtrent drie tot vier koppies by die huis drink en sommer weer twee by die werk. Ek eet graag ‘chocolates’ en ‘sweets’ voor slapenstyd. Dit is al ’n roetine en ek hou glad nie my figuur dop nie.”

Sy glo ook daarin om moeilike gedeeltes van die lewe in positiewe ervarings te verander.

“Ek is al 15 jaar by ’n wonderlike finansiële instansie en ek’s trots om daarmee geassosieer te word. Ek is mal oor die mense, kollegas en my span. Daar is deur en deur ondersteuning in enige situasie, of dit nou persoonlik of werksverwant is. Dit is prysloos om mense te help en die kleinste verandering in hulle lewe te kan maak. Ek kry elke dag die geleentheid om iemand wat dalk nie so goed voel nie, ’n kompliment te gee. Dit maak sommer laat almal beter voel.”

Foto’s deur @dreyathephotographer