POTCHEFSTROOM. – Die liggaam van ’n 10-jarige dogtertjie is onder die bed van haar ma se eks-kêrel gevind. Na bewering het die verdagte die dogter by haar skool ontvoer.
Liggaam onder bed gevind
Kapt. Sam Tselanyane, polisiewoordvoerder, sê die verdagte se eks-meisie het ’n saak van poging tot moord teen hom oopgemaak. Die verdagte moes op 4 November 2021 in verband met die saak in die hof verskyn. Hy het toe glo die hof verlaat sonder on te verskyn en ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming is uitgereik.
Die verdagte het na bewering nadat hy die hof verlaat het, na ’n laerskool in Ikageng gegaan waar sy eks-meisie se 10-jarige dogter skoolgegaan het. Hy het glo die leerder ontvoer. Dit is die laaste keer wat sy lewendig gesien is.
Tselanyane sê toe die kind nie terugkeer huis toe na skool nie, het die ma ’n saak van ontvoering by die polisie aanhangig gemaak.
Wou nie sê waar kind is nie
Die verdagte is op 7 November in hegtenis geneem, maar die polisie kon nie volledige inligting oor waar die kind haarself bevind by die verdagte kry nie.
Die verdagte se huis is op 8 November deursoek en die meisie se lewelose liggaam is omstreeks 09:45 onder die bed versteek gevind. Die moontlikheid dat die oorledene dalk verkrag is, kan nie uitgesluit word nie en word ondersoek.
Die verdagte sal Woensdag 10 November 2021 in die Potchefstroom-landdroshof verskyn.
LEES OOK: Het jy hierdie fiets gesien?



