“Vandag se ons totsiens vir ‘n dogter, ‘n sussie, ‘n niggie, ‘n kleindogter, ‘n vriendin en ook ‘n ma. Iemand vir wie almal van julle baie lief was,” so het ds. Petri Spies vanoggend in die Baptiste Kerk Langenhovenpark in Bloemfontein op Drury se begrafnis gesê.
Hy het Drury beskryf as iemand wat kunstig was, altyd mooi gelyk het en mooi na haar kinders gekyk het. Iemand wat ‘n aansteeklike lag gehad het en iemand wat sag was. “Hoewel sy ‘n klein hartjie gehad het, kon sy ook haar man staan.”

Dit was ‘n hartseer dag vir die Drury-familie asook die vriende van Rochelle waar daar vir die laaste keer afskeid van haar geneem is nadat sy op 3 November selfdood gepleeg het.
Drury en haar kêrel, Jason Jonker, het twee dae uit mekaar selfdood gepleeg. Hulle het ‘n 11 maande oue babaseuntjie saam.

Angelique Joubert het Rochelle se ouers, Pieter en Myrtle Drury, se briefies op die begrafnis voorgelees.
Haar pa, Pieter, se brief:
“My liefste Sussie, Dad sit vandag met ‘n gebroke hart, my kind. Ek mis jou so ongelooflik baie, Sussa. Ons het jou naam gekies toe jy gebore is. Rochelle – dit beteken deel van rots, my kind. Dit het beteken dat jy deel is van my en nou is daardie deel weg Sussa. My rots is onvolledig sonder jou. Niemand sal ooit jou plek in Dad se hart kan inneem nie. Elke kind van my het ‘n spesiale plek in my hart, maar jy was, is my rots wanneer ek swaar gekry het. Jy was daar vir ons almal en wanneer ek swaar gekry het. Jy wou net altyd almal help. Sus jou plekkie is leeg. My hart is leeg en ek en Mamma en Ouboet sukkel nou sonder jou. Ek wens ek kon die tyd terugdraai sodat julle twee nog klein kon wees en in die huis kon wees. Sodat ek julle teen die aanslae kon beskerm. Maar nou is dit te laat. My mooiste meisiekind, die Here het besluit om die mooiste roos in Sy tuin te pluk en daarom het Hy jou kom haal. Daar is nie genoeg woorde om my hartseer te beskryf nie. Die pyn is ondraaglik. Ek onthou toe jy nog klein was en amper my oog met ‘n klip uitgegooi het. Hoe jammer jy daaroor was. Jy wou net alles toe regmaak en het my heeltyd net gedruk en gesoen. So baie keer my kind. Ons twee het deur baie dinge gegaan Sussie, maar jy was altyd sterk, selfstandig en slim. Jy het sulke twee pragtige seuntjies Sus. Hulle was jou lewe, so Dad verstaan nie hoekom dit moes gebeur het nie, en hulle gaan dit ook nie eendag verstaan nie. Jou skoolloopbaan was net so vol opwinding my kind. Baie fights, haha, maar Dad en Moeksie was daar om jou by te staan. Na skool het jy so goed gevorder. Jy was uitstekend in jou werk. Jy was ‘n uitmuntende dogter, jong meisie, vrou en metgesel. Net soos ‘n papie in die mooiste skoenlapper verander. Die trane vloei, nee, dit stroom oor hierdie ou man se wange wat jy Dad genoem het en dit wil nie ophou nie. My hart voel asof dit uit my borskas geruk word. En dit skeur stukkie vir stukkie los tussen my ribbes. My pragtige kind, Dad wens dat ek plekke met jou kan ruil, want ek is al oud en het reeds lank genoeg gelewe. Ek wil hê dat jy jou seuntjies moet grootmaak en ‘n goeie ma vir hulle wees soos jy reeds was. Hulle gesiggies en wese het altyd opgehelder as jy die vertrek binnegekom het. Nou wag hulle vir Mamma, maar sy kom nie meer nie. Jou seuntjie vra na sy mamma. Sussa, hy verstaan nie waar jy nou is nie my kind. Hoe vertel ek vir jou seuntjies Mamma is nou by Liewe Jesus en dat sy nie weer terugkom om hulle vas te hou en hulle drukkies te gee of hulle te soen nie? Om saam met hulle na hul sportbyeenkomste te gaan. Hulle eerste skooldag, hul eerste maatjies, meisies, hoërskool en moontlik universiteit. Sussa jy laat ‘n baie groot leemte in jou dad se hart. Jou seuntjie verstaan nie wat aangaan nie en is so verspot by tye. Ek onthou hoe kwaai jy kon raak as ek iemand anders Sussie of Sussa noem – dit was ons spesiale sê-ding. Daar was en sal altyd net een Sussa vir Dad wees en dit is jy my kind. Daar is soveel goed wat ons nog moes saam doen my kind, maar die tyd was ons nie gegun nie. Ek wens ek kon die tyd terugdraai na die dag toe ek jou by Bloem Care gaan inboek het. Ek moes na jou geluister het toe jy my al huilend gevra het om jou nie daar te los nie. Jy het gesê jy wil nie alleen wees nie, en dat jy dit nie gaan maak nie. Jy het gesê jy wil net by ons wees. Maar, Sussie Dad het gedink dat ek goed doen. Jy het die nodige hulp gekry om jou hartseer te verwerk. Sussa Dad is bitter jammer dat Dad nie na jou geluister het nie my mooiste liefling. Ek is jammer Dad het jou gefaal toe my kind my die nodigste gehad het. As ek net jou na geluister het. Ek is so jammer. Jammer my liefste kind, my meisiekind, my sussie. Ek vra jou Sussie, nee, ek smeek jou. Asseblief, vergewe my. Asseblief, Dad se lewe is leeg sonder jou. Niks maak meer sin nie. Ek is so moeg. Ek wil plekke ruil. Hoekom kan ons nie maar net plekke ruil nie? Jy het so baie om voor te lewe. Wat van jou pragtige seuntjies? Jy is was ‘n asemrowende vrou. Jy het die lewe met soveel mag aangepak en altyd ‘n sukses van alles gemaak wat jy aangepak het. Jy was ‘n uitmuntende gimnas. Jou stem is nou stil. Maar dit weergalm binne my, Sussa. Jy en Wayne is nou by mekaar. Ek glo julle gesels nou lekker. Dad sal julle twee nooit vergeet nie my kind. dit belowe Dad jou my liefie. Jou hartseer, smart en pyn is nou verby my kind. Nou sit ek, Mamma en Ouboet met hartseer, smart, pyn en verwyte. Ek is die Here ewig dankbaar dat Hy jou vir 24 jaar ons geleen het om na jou om te sien en die fantastiese vrou waarin jy ontwikkel het. Jy is nou by Jesus en Hy sal jou nou verder lei, behoed en bewaar. Al is my kind nie meer by ons nie sal jy altyd voortleef in jou twee seuntjies. Ons sal mooi na hulle kyk. Hulle sal grootword en weet dat hulle mamma stunning was van binne en buite. Rus sag en in vrede. Sussa, Sussie, altyd deel van my. Dad sal jou mis en nooit vergeet. Ek gaan jou mis en vir altyd lief hê. Till we meet again.

Haar ma, Myrtle, se brief:
Die kosbaarste mens wat ek ooit vasgehou het, was jy my baba. My prinses, vertroueling en beste vriendin. Mamma sukkel om in woorde te beskryf wat jy vir my beteken het. Dit is so moeilik. My lewe het in ‘n oogwink verander. My sonskyn is weg. Mamma gaan nie ‘n lang storie skryf nie, want daar is te veel om te sê. Ek wil vandag vir jou dankie sê my kind. Dankie vir ons oorslaapaande en hoe jy altyd styf teen my gelê het onder die dikste kombers. Jy het vir ons sulke lekker hoenderslaai gemaak wat ons dan vining geëet het sodat ons kon poeding eet – daar moes altyd poeding gewees het. En niks anders as chocolate mouse nie. Dankie vir jou troetelnaam, Moeksie vir my. Dit was so spesiaal. En net jy kon dit so mooi laat klink het. Jy het die skerpste sêgoed gehad en in enige oomblikke kon jy iets funny sê en dan het ons gelag tot ons huil. Moet tog nie vergeet dat jy die beste drama queen was nie – jy kon so overact al was dit iets klein. My ou stres prinsessie. Sondae moes ek chocolate poeding maak dan eet jy die helfte van die pampoen en hou plek vir die poeding. Net soos Mamma was jy ‘n chocoholic. Saam met wie gaan Mamma nou die reekse op Netflix kyk? Jy het altyd vir my opgekom en niemand sou met my moeilikheid soek nie. Jy was so goed met geskenke koop – net die beste gifts en Jy het dit altyd so mooi toegedraai en versier. Die lekkerste was die masserings as my nek of rug seer was. Jou sagte handjies het lank aangehou tot Mamma beter gevoel het. Dankie vir die spesiale gift vir Wayne se as wat jy, Jason en Donovan gereël het. Dis iets wat ons altyd sal koester. Dankie vir al die blomme wat jy altyd vir my gekoop het. Jy het my altyd so goed laat voel met al jou komplimente en my dan met parfuum kom spuit. Jy was tog so lief vir KFC en McDonalds. As ek net waag om te vra wat eet ons vanaand dan kom die antwoord “KFC of McDonalds.” Mamma kan boeke kan skryf oor jou, maar sommige herinneringe is net tussen my en jou. Jy sal my baba wees vir solank as wat ek lewe. Ek sal jou liefhê tot in alle ewigheid. Jou seuntjies sal jou nooit vergeet, want Mamma Pappa en Boeta sal daarvoor sorg. Jy was die mooiste mens vir my – absoluut beeldskoon. My gedagtes fladder rond en my hart pyn so dat ek skaars kan asemhaal. Ek vat elke dag soos dit kom, maar ‘n leemte het in my lewe gekom. Niks sal dit ooit kan verander nie. Ek mis jou my pop, my mooiste, mooiste babatjie. Ek wens ek het geweet dat dit die laaste dag was dat ek jou sou vashou, want dan sou ek jou nooit laat gaan het nie. My arms is leeg sonder jou. Tot ons mekaar weer sien groet ek jou my engel pop.




