Liané verteenwoordig ‘n vierde keer haar land

Deel hierdie storie / Share this story

Bloemfontein Online Co. gesels met die 17-jarige Liné Greyling wat vir die Suid-Afrikaanse o/20-tennisspan gekies is om in Desember in Lesotho te gaan meeding.

Liné is ‘n leerling aan Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein en is ook in Bloemfontein gebore.

Sy vertel hoe opgewonde sy is om te gaan deelneem en vertel sy sien baie uit om dié geleentheid met beide hande aan te gryp.

“Ek sien regtig baie uit om my land in Desember te gaan verteenwoordig. Dit gaan ‘n baie goeie ervaring wees!”

Liné vertel om Suid-Afrika in die buiteland te verteenwoordig, is een van haar grootste drome. “Dis vir my motivering om nooit op te gee nie en om elke dag net nog harder te oefen.”

Sy vertel haar ouers is haar grootste ondersteuners. “Sonder hulle sou ek nooit die blootstelling en die geleenthede gekry het nie. My ouers offer so baie op dat ek toernooie kan speel. Of ek nou wen of verloor, my ouers is altyd daar vir my!”

Liné vertel dat sy graag in haar vrye tyd bak en brou. “Veral verjaardagkoeke vir vriende of bestellings wat ek kry. Ek geniet dit ook baie om tyd saam met my vriendinne deur te bring. Ek het ook al soveel vriende by die tennis gemaak dat tennis ook sommer vir my sosiaal is.”

Wat Liné se balans tussen akademie, sport en haar sosiale lewe aanbetref, vertel sy sy sit baie aande langs die bane en doen haar skoolwerk. “In die aande as ek op toernooie is, doen ek my skoolwerk. Ek maak seker my werk is op datum wanneer ek terug is by die skool.”

Liné se haar goeie onderwysers en ekstra klasse help ook baie. “Die onderwysers help my geweldig en gaan uit hulle pad om my te help.”

“Tennis het my geleer om selfstandig en nederig te wees. Ek was alleen op my eerste toer in graad vier. My eerste keer wat ek vir Suid-Afrika gespeel het, was toe ek 12 jaar oud was. Ons het in Morocco aan die Afrika-spele deelgeneem. Dit was slegs ons ses spelers en ‘n afrigter. Ek het van kleins af geleer dat ‘n mens baie meer verloor as wen in die lewe.”

“Bly nederig en glo en vertrou op die Here. Hy weet altyd die beste!”