Die wonderlike mediese span by GreyMil Rehab in Bloemfontein is genomineer as een van die besighede wat die afgelope tyd ‘n fantastiese diens in Bloemfontein gelewer het.
GreyMil Rehab bied rehabilitasie soos neurologiese rehabilitasie, multi-trauma- en ortopediese rehabilitasie, spinaalkoord-beseringsrehabilitasie, rehabilitasie na ‘n lang siekbed, en ook buitepasiëntdienste aan pasiënte.
Bloemfontein Online Co. gesels met GreyMil Rehab en vind uit op watter manier dié span ‘n verskil in die gemeenskap maak.
Helanie Oosthuizen, woordvoerder vir GreyMil Rehab, vertel wat presies hulle rehabilitasie insluit.
“Tydens fisiese rehabilitasie word pasiënte gehelp om hulle daaglikse funksie en onafhanklikheid terug te kry na ‘n ingrypende en dikwels lewensveranderende of traumatiese voorval. Daar waar onafhanklikheid nie dadelik moontlik is nie, bied ons hulpmiddels, help ons met aanpassings en ook die opleiding van familie en versorgers om op dié manier optimale integrasie tuis en in die gemeenskap te verseker.
Die span spesialiste by GreyMil Rehab bestaan uit mediese dokters, arbeids-, fisio- en spraakterapeute, ‘n dieetkundige, ‘n maatskaplike werker en ook ‘n kliniese sielkundige.
Helena vertel op die oomblik lewer hulle nie ‘n pediatriese diens nie, maar hoop om in die toekoms te kan uitbrei om kinders ook te akkommodeer.
GreyMil Rehab bestaan al sedert 2007 en dié unieke naam is van die samesmelting van “Greyling” en “Milne” afkomstig, die name van die fisioterapeut en arbeidsterapeut wat die diens begin het.
Helena vertel die redes waarom hulle dit so geniet om ander te help, is ontelbaar.
“Die dankbaarheid en opwinding om iemand te kan leer om weer te loop. Om ‘n arm en hand van ‘n beroertepasiënt die eerste keer te sien beweeg na intensiewe terapie. Pasiënte wat hulle onafhanklikheid terugkry met dinge wat ons dikwels as vanselfsprekend aanvaar soos om self te kan eet, jou neus te blaas of klere aan te trek. Die voorreg om in so ‘n weerlose tyd van ‘n pasiënt se lewe daar te mag wees ter ondersteuning en hoop vir hom/haar en hulle familie.”
Helena sê om daagliks wonderwerke te sien en te ervaar, is wat die lekkerste is.
“Die bevrediging om weer vir pasiënte hulle onafhanklikheid terug te gee of om te help om sinvolle aanpassings te maak vir ‘n vol lewe ten spyte van ‘n gestremdheid. Dit is die vreugde en hartklop van GreyMil.”
Die GreyMil Rehab-span ervaar ook hartseer as hulle die hartseer, swaarkry en verlies wat pasiënte en hulle families soms moet beleef, ervaar. “Dis ook hartseer om ‘n pasiënt te verloor met wie jy ‘n lang pad gestap het.”
Helena vertel dis bykans onmoontlik om slegs een persoon wat die grootste indruk op hulle gemaak het, uit te sonder. “In ons oë is elkeen van ons pasiënte ‘n hedendaagse held vir hulle moed en deursettingsvermoë, ten spyte van vele uitdagings.”
“Ons pasiënte is ons grootste bron van inspirasie en ons voel werklik geseënd om ‘n pad met elkeen te mag stap. Om van ons pasiënte te mag leer van ware uithouvermoë, van hoop, van positief bly, van hoe om weer te probeer na die moeilikste van terugslae, van die onskatbare waarde van familie en geliefdes wat in jou glo en jou ondersteun, van hoe ware geluk intern is en nie op eksterne omstandighede gebou kan word nie.”
As GreyMil Rehab ‘n boodskap van hoop aan die wêreld kan stuur, sal dit wees:
“Moet nooit moed opgee nie. Soms is dit die moeilikste paaie van die lewe wat ons wys hoe mooi die lewe kan wees en wat ons groter doel op aarde is. ‘n Goeie vergelyking is dié van ‘n trein wat vanaf die een kant van ‘n berg deur ‘n donker tonnel moet gaan. Voor die tonnel het alles mooi en goed gelyk. Binne die tonnel is dit pikdonker en dit voel of die donker nooit gaan ophou nie, maar na ‘n rukkie begin mens die lig in die verte raaksien en hoe verder die trein beweeg, hoe helderder word die lig. Wanneer die trein aan die ander kant van die berg in die helder lig inry, sien mens hoe pragtig die landskap aan die ander kant van die berg daar uitsien. Moeilike tye in die lewe is ook so. Ons dink soms die donker tonnel gaan nooit ophou nie, maar met vasberadenheid en oë op God gerig, begin ons die lig sien en wanneer ons deur die moeilike tyd in ons lewe gewerk het, sien ons die mooi daarvan en is ons veranderd, nuut, sterker. Elke mens is kosbaar, uniek en onvervangbaar, maak nie saak of jy anders lyk, praat of beweeg nie.”



