Eks-kêrel van vermoorde meisie meld by polisiekantoor aan

Deel hierdie storie / Share this story

Christopher (Stoffie) Graham Watson (34), Angie Angelique Fourie se eks-kêrel, het vanoggend 06:45 by Norkem Park-polisiekantoor aangemeld.

Daar is gister ‘n landwye soektog na hom van stapel gestuur, omdat niemand hom in die hande kon kry nie.

Kol. Luke Enslin het bevestig Watson het homself vir ondervraging beskikbaar gestel.

Fourie is Sondagaand 7 November na bewering in haar woonstel vermoor.

Fourie se buurman, wat nie sy naam genoem wil hê nie, het Sondagaand gesien haar woonstel brand en het gaan ondersoek instel.

Fourie se pa, Awie Fourie, het aan FiND iT vertel die buurman het haar leweloos op die vloer gekry met  ‘n steekwond in haar nek, asook merke op haar lyf.

Watson en Fourie het ‘n tweejarige dogtertjie saam.

Mike Bolhuis, privaat-ondersoeker, sê die paartjie het in ‘n bakleiery betrokke geraak by die Legends Sports Bar op Trichardt. “Die bakleiery het gewelddadig geraak by haar huis in die Terra Nova-kompleks. Die woonstel is in ‘n poging om bewyse uit te wis, aan die brand gesteek.”

Bolhuis sê Watson het hulle tweejarige dogtertjie ongeveer 23:30 Sondagaand by sy suster op Secunda afgelaai.

Hy is die eerste keer vanoggend weer gesien nadat hy by die polisiekantoor aangemeld het.