Vicki se liggaam in vlak graf gevind

Deel hierdie storie / Share this story

Vicki Terblance (42), wat op 19 Oktober vermis geraak het, se liggaam is vroeg Saterdagoggend in ‘n vlak graf in Gqeberha (Port Elizabeth) gevind.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, het aan FiND iT bevestig haar liggaam is in Greenbushes gevind.

Die Mount Road-polisie het Vrydagaand omstreeks 21:50 inligting opgevolg oor ‘n verdagte huis in ‘n kompleks in Millpark. “Toe die polisie daar aankom, het hulle opgelet dat die huis se deure en die motorhuis se deure wawyd oop was,” sê Naidu. “Die polisie het dadelik besef iets is nie pluis nie, en hulle forensiese span is ingeroep.”

Terwyl die polisie by die huis was, het ‘n 32-jarige man daar aangekom en gesê hy woon daar. Speurders het die man herken as die een wat Donderdag sy meisie as vermis aangemeld het.

Naidu sê die man is vir ondervraging na die polisiestasie geneem.

Verdere ondersoek het die polisie gelei na ‘n huis in Burdstraat in Newton Park waar ‘n 24-jarige man ook ondervra is.

“Ongeveer 03:00 Vrydagoggend, na intense ondersoek, het die polisie Vicki se liggaam in ‘n vlak graf in ‘n oop veld in Greenbushes gevind.”

‘n Nadoodse ondersoek sal haar dood bevestig.

Twee mans is op aanklag van moord in hegtenis geneem en verskyn na verwagting Maandag in die Gqeberha-landdroshof.

Lees die vorige berig hier.