Vrou se verdwyning: ‘Daar was dwelms in die huis’

Deel hierdie storie / Share this story

Vicki Terblance (42) is sedert 19 Oktober vermis en haar eks-man, Arnold Terblance, praat met FiND iT oor haar verdwyning.

Arnold en Vicki woon in dieselfde kompleks in Port Elizabeth (Gqeberha). Arnold het Vicki Maandagmiddag laas gesien.

“Haar kêrel, wat saam met haar woon, het gesê hulle het Maandagaand vasgesit. Sy was die Dinsdagoggend nog by die huis, maar toe hy later die oggend teruggekom het by die huis, was Vicki nie meer daar nie.”

Arnold en Vicki het ‘n 12-jarige seun en hy vertel toe hy besef dat Vicki glad nie met hulle seun kontak maak nie, het hy besluit om die polisie te nader.

“Die polisie het Vrydagaand na 10 by die kompleks aangekom en hulle huis deursoek. Hulle het op ‘n klomp dwelms afgekom en wat vreemd was, is dat die spaarkamer se beddegoed glad nie in die huis was nie. Dit was nie in die ‘garage’ of in die was nie.”

Arnold vertel Vicki se kêrel is Saterdagoggend deur die polisie vir ondervraging geneem en hy word tans steeds ondervra.

“Omdat die proses lank neem, kan die polisie nog nie vir ons enige inligting gee nie. Maar hulle het gesê ons kan slegte nuus verwag.”

Arnold sê hy het vroeër ‘n oproep ontvang van ‘n vrou wat Vicki se foto uitgedruk het en dit na ‘n bekende karwag in Gqeberha-sentraal geneem het. Dié het glo gesê dat sy Vicki saam met ‘n hawelose vrou gesien het.

Arnold is tans op pad na Gqeberha om te kyk of hy iets kan wysraak.

FiND iT hou jou op hoogte.