OOS-KAAP. – Die streekhof op Mthatha het Nyamekile Alfred Bhenge (80) tot ses jaar direkte gevangenisstraf gevonnis nadat hy sy sy biologiese dogter tussen 1978 en 1984 verkrag het.
Die slagoffer in hierdie saak het sedertdien bande met haar gesin verbreek en haar identiteit verander. Volgens Luxolo Tyali, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het sy toestemming gegee dat die naam van haar pa bekendgemaak word.
Die dogter was 14 jaar oud toe haar pa haar begin verkrag het. Hulle het saam in die Ngangelizwe informele nedersetting op Mthatha gebly terwyl haar ma, wat van Bhenge geskei het, in Durban gewerk het. As gevolg van die verkragtings het die dogter in Maart 1983 ‘n seun in die wêreld gebring.
“Vaderskapstoetse wat tydens ondersoeke uitgevoer is, het Bhenge positief geïdentifiseer as die biologiese vader van die nou 37-jarige man. Nadat sy geboorte gegee het, het die dogter van die huis af weggehardloop en na Gauteng verhuis,” het Tyali verder gesê.
Sy het in 2015 besluit om die voorvalle by die polisie in Johannesburg aan te meld. Die polisie in Gauteng het die saak na Mthatha oorgeplaas, waarna Bhenge in hegtenis geneem is. Hy is in Julie vanjaar skuldig bevind nadat hy skuld beken het.
Tyali sê in Bhenge blameer alkohol in sy pleitverduideliking. Hy beweer dat hy die verkragting gepleeg het terwyl hy dronk was en het gedink dat sy dogter een van sy vriendinne was, aangesien sy vrou toe al van hom geskei het. In die hof het die slagoffer, nou ‘n gevestigde sakevrou, belowe om nooit haar pa te vergewe nie en het bygevoeg dat sy weens die mishandeling wat sy verduur het niks met haar hele familie te doen wil hê nie.
Aangesien die misdade gepleeg is voordat die Wet op Minimum Vonnisse in werking getree het, het die hof sy diskresie gebruik om Bhenge te vonnis en sy ouderdom en gesondheid in ag geneem. Die NVG verwelkom die vonnis met die hoop dat dit ander slagoffers van seksuele misdrywe sal aanmoedig om na vore te kom, selfs al het die misdade lank gelede plaasgevind.
LEES OOK: Vier boeties vanoggend op pad skool toe ‘ontvoer’
LEES OOK: Man hang vrou, laat lyk soos selfdood
Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.



