October 18, 2021

Man vermoor sy meisie, bind haar vas en begrawe haar onder sy bed

Op naweke sou hy terugkeer na sy huis om seker te maak dat die graf nog bedek is.

Man vermoor sy meisie, bind haar vas en begrawe haar onder sy bed

Man vermoor sy meisie, bind haar vas en begrawe haar onder sy bed Foto: Poynter

PRETORIA. – Die hooggeregshof van Suid -Afrika het Samuel Thokozane Sibeko tot 20 jaar gevangenisstraf gevonnis nadat hy sy meisie vermoor het. Hy is ‘n verdere drie jaar gevangenisstraf vir regsverydeling opgelê.

Sibeko het op 7 Oktober 2021 skuld beken op alle aanklagte en nadat die staat sy pleit aanvaar het, het die hof hom gevolglik op alle aanklagte skuldig bevind. Hy is op 11 Oktober 2021 gevonnis

“In sy pleitverduideliking het Sibeko erken dat hy in die vroeë oggendure van 26 Junie 2019 Mathapelo Alice Mbele in sy huis by Vlakfontein gewurg het totdat sy op die grond geval het. Hy het gesê daar was ‘n hewige argument na sy die vorige aand dronk by die huis gekom het,” sê Phindi Mjonondwane, woordvoeder van die Nasionale Vervolgingsgesag.

Meisie vermoor

Sibeko het bygevoeg dat hy haar hande en voete vasgebind het en haar ‘n paar uur alleen gelos het omdat hy gedink het sy het net haar bewussyn verloor. Toe hy terugkom, het hy agtergekom dat sy nie asemhaal nie en hy het besef hy het haar vermoor. Hy het haar liggaam met ‘n kombers bedek en gaan slaap.

Mjonondwane sê verder na die vyfde dag het hy die lyk onder sy bed begrawe om die misdaad vir sy vriende, familie en die polisie weg te steek. Toe mense uitvra oor waar sy meisie was, het hy vir hulle gesê sy het vir werk gaan soek en nooit weer teruggekeer nie.

Na die voorval het hy aanhou oorslaap by vriende. Op naweke sou hy terugkeer na sy huis om seker te maak dat die graf nog bedek is. Hy verklaar dat hy op 4 Augustus 2019 nie meer met sy misdaad kon saamleef nie en besluit het om ‘n vriend van die moord en die graf te vertel. Sibeko het die vriend gevra om die polisie te bel en toe hulle daar aankom, het hy hulle die misdaadtoneel en graf gewys.

LEES OOK: Mattanu-wildreservaat vra gebede terwyl brande veld verwoes

LEES OOK: Skietery vanoggend by Centurion-inkopiesentrum

Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *