KIMBERLEY. – Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die poging tot sakeroof en skietvoorval wat Saterdagoggend by die Monument Spar-sentrum plaasgevind het nie.
Kol. Mashay Gamieldien, polisiewoordvoerder, sê niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. ’n Amptelike verklaring sal uitgereik word sodra iemand in hegtenis geneem word.
Na bewering het vier verdagtes omstreeks 10:15 die juwelierswinkel binnegegaan en hulself as klante voorgedoen. Hulle het glo juweliersware en geld van die eienaars en die winkelassistente geëis. ’n Struweling het in die winkel ontstaan en skote is afgevuur. Een van die manlike verdagtes is beseer en het buite die winkel ineengestort. Hy is later op die toneel dood verklaar.
’n Werknemer by een van die winkels in die sentrum, wat anoniem wil bly, het aan FiND iT gesê die insident was vreesaanjaend en almal is nou bekommerd dit kan weer gebeur.
“Mens weet nooit wanneer iemand met ’n wapen kan instap nie. Baie kere is ons net vroue in die winkel.”
Die eienaar van ’n winkel in die sentrum sê sy winkel het nog ooit tevore enige sekuriteitsprobleme ervaar nie.
LEES OOK: Vier wou glo juwelierswinkel beroof



