LAPA Uitgewers publiseer Die Stella-moorde geskryf deur Susan Cilliers.
Mei 2018 was die hele land saam met die gemeenskap van Stella in Noordwes geskok om te verneem dat twee tienermeisies, Sharnelle Hough en Marna Engelbrecht, in hulle skoolkoshuis vermoor is. Xander Bylsma, ’n negentienjarige boerseun, is aangekla van die wurgmoorde. Die Stella-moorde, volgens die agterbladteks, handel oor die vrae wat ná die hofsaak onbeantwoord bly, oor lewens wat in hulle fleur vernietig is, en oor die moontlikheid van berusting en vergifnis. Cilliers bied ook ’n blik op die intriges wat die moorde voorafgegaan het.
Die Stella-moorde beslaan 33 hoofstukke ofte wel 208 bladsye, verskeie foto’s en ook getranskribeerde dialoog. Die hoofopskrifte is volgens datum genommer en help die leser om chronologies tred te hou met die gebeur. Die boek begin met ’n aanhaling van regter Ronald Hendricks op 7 Augustus 2020 aan Bylsma. “U optrede was walglik, u het geen respek vir hulle getoon nie en hulle in vulgêre ginekologiese terme sleggesê. Die ouers van die vermoorde meisies se drome is verpletter deur iemand wat niks verkeerd sien in wat hy gedoen het nie. Die leemte van hul kinders se dood sal nooit gevul word nie, want hulle sal nooit weer hul kinders sien nie.” Daarná volg ’n ysigwekkende vertelling van die meisies se laaste lewensoomblikke.
Die staat se eerste getuie, dokter Tromp Els, wat die lykskouings op Sharnelle en Marna se liggame gedoen het, getuig op 12 Maart 2019. “Els se getuienis rekonstrueer die verhaal van twee kinders wat onbeskryflike doodsbenoudheid moes ervaar het in hul geveg om te bly leef terwyl hul moordenaar die lewe uit hulle gewurg het” (97). Op 7 Augustus 2020 laat regter Hendricks Bylsma opstaan in die hof. “Nadat alles oorweeg is, is die hof van mening dat u weens die moord op Sharnelle lewenslange tronkstraf opgelê moet word. Vir die moord op Marna kry u ook lewenslange tronkstraf. U mag ook nie ’n wapen besit nie” (180).
Hierdie was nie vir my ’n maklike boek om te lees nie. Cilliers se beskrywings is baie intiem en reguit (op plekke dalk onnodig skokkend) en het my as leser laat voel of ek ’n toeskouer en aanhoorder van die gebeure was. Haar navorsing is goed en sy gaan vloeiend en gemaklik om met feitlike en saaklike informasie en getuienisse. Sy slaag daarin om aan die leser besonderhede te verskaf waaroor mens wonder, maar wat jou tog ná die tyd nagmerries laat kry. Met die toemaak van die boek kon ek maar net my kop skud en my hart vashou. Hoe tragies en hoe sinneloos tog die moorde op twee meisies in die fleur van hulle lewe!
Meer oor die skrywer: Susan Cilliers het ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy werk al vir langer as ’n dekade lank as Beeld en Netwerk24 se verslaggewer in Noordwes. Voorheen het sy artikels vir Huisgenoot geskryf. Sy is ook die skrywer van Huis van gruwels: My 16 jaar in die Springs-hel.



