Pasiënt reis 800 km verniet om sy voet te laat spalk

Deel hierdie storie / Share this story

Is dit nie onmenslik nie, dat ’n pasiënt verniet so ver moet ry om behandel te word?

Dit was Neil Cockrill (49) van Matjieskloof, buitekant Springbok, se ervaring by die Harry Surtie-hospitaal. Toe hy Dinsdag daar opdaag, moes hy verneem dat niemand vir hom ’n bed bespreek het  nie.

’n Familielid, Evelyn Cockrill, het onsteld vertel dat Neil reeds Dinsdagoggend teen drie-uur douvoordag uit Springbok vertrek het omdat daar glo uiteindelik ’n bed beskikbaar was. Sy sê: “Gelukkig kon hy weer met dieselfde ambulans terugkeer na Springbok, anders was hy gestrand. Hy was byna 20 ure op die pad met ’n voet wat op drie plekke gebreek het.”

Volgens sy oom, Raphael Cockrill, is Neil Sondag 15 Augustus  deur ’n motor raakgery. Hy was net een aand in die Springbok-hospitaal. Hy is toe ontslaan met net ’n verband om sy voet.

Aanvanklik is hy meegedeel om eers te wag tot 13 Oktober weens ’n tekort aan beddens. Dan sou hy deur ’n spesialis op Upington geopereer word.

Evelyn bewe as sy praat oor die swak behandeling wat Neil van die departement van gesondheid ontvang het die afgelope byna twee maande.

Volgens haar het die Springbok-hospitaal Neil ook maar swak behandel nadat sy storie in die media verskyn het. Sy sê: “Dr. Roland Waterboer het nie sy voet ontsmet nie en gevra of iemand anders dit nie wou doen nie. Ook wou hy Neil nie self verdoof nie en het iemand anders gevra.”

Dit is nie bekend of die persoon wat hom wel ingespuit het ’n intern is nie. Blykbaar het die persoon ’n aar gemis en was Neil se voet nog “lewendig” toe hulle dit verlede week by die Springbok-hospitaal gespalk het. 

Boonop moes Neil na byna 10 ure by die Springbok-hospitaal self sorg om by die huis te kom.

Evelyn vertel verder dat dr. Waterboer Neil ook sterk berispe het omdat hy voorheen na die media gehardloop het. Hy het hom glo beveel om sy “nonsense” in die koerant reg te maak.

Volgens senior bestuur by die Springbok-hospitaal lê die probleem by die Dr. Harry Surtie-hospitaal. Hulle het so reageer: “Ons pasiënte moes al vele kere by Upington omdraai nadat Springbok se dokters lang ure op die telefoon was om afsprake te maak. Hulle moet ’n slag aangevat word. Dis onmenslik om ons mense so te behandel.”

* Neil moes intussen weer Woensdag na Upington vertrek omdat daar weer ’n bed vir hom bespreek is.

Volgens Evelyn sal hy vir ten minste drie weke in die hospitaal moet bly.