“’n Maand nadat klein Lirie gebore is, het Pappa een aand nog haar voete gekielie… Die volgende oggend was haar bene lam, sy kon nie haar beentjies beweeg nie.”
So vertel Mauriche Jacobs, ’n man van Boksburg oor hulle baba, tans vyf maande oud, wat verlam en aan ’n ventilator gekoppel is. Die klein lyfie is al deur vele toetse en niks of niemand kon al die toestand waarin sy haarself tans bevind, verklaar nie.
Lirie is April 2021 op 32 weke gebore. Volgens Mauriche was sy oor die algemeen gesond, maar moes toe al aan ’n ventilator gekoppel word. ’n Maand na haar geboorte het alles gebeur.
“Hulle het aanvanklik vermoed Lirie is met spina bifida gebore. Dit is ’n gestremdheid wat veroorsaak word as die ruggraat nie behoorlik toegroei nie. Intussen het die dokters ’n vloeistofsakkie onder haar rugstring op skanderings opgemerk.”

Na twee maande wat baba Lirie in ’n hospitaal in Brakpan was en steeds aan ’n ventilator gekoppel was, het haar ouers aangedring dat sy na Sunninghill-hospitaal in Johannesburg oorgeplaas word. Lirie se pa het intussen positief vir Covid-19 getoets, hulle moes isoleer en die ouers kon nie by hulle babadogtertjie wees toe sy oorgeplaas is nie.
“Asof dit nie genoeg is nie, moes ons nog slegter nuus oor die telefoon kry. Ons het gehoor ons klein babadogtertjie gaan waarskynlik altyd van ’n ventilator afhanklik wees.”
“Ek het uit isolasie gekom en self met die pediater, neuroloog en pulmonoloog by Sunninghill-hospitaal gaan gesels. Hulle het met my gedeel dat die vloeistofsakkie wat hulle aanvanklik opgemerk het, verdwyn het. Dit beteken Lirie het nie spina bifida soos hulle gedink het nie. Die nuwe dokters verduidelik toe aan my dat klein Lirie waarskynlik in ’n stadium trauma hoog in haar nek opgedoen het.”
Dit is steeds nie duidelik hoe sy hierdie “trauma” opgedoen het nie. Volgens die neurochirurg is Lirie ’n mediese raaisel.
“Daar is niks wat ons vir Lirie kan doen nie…” Dit was die woorde wat my finaal gebreek het. My wêreld deurmekaargegooi het.
Lirie is tans stabiel, maar steeds aan ’n ventilator gekoppel omdat sy as gevolg van die verlamming nie self kan asemhaal nie. Mauriche en haar man het die geleentheid gehad om die klein lyfie vir ’n rukkie by die huis te hê, maar hulle moes met haar terugjaag hospitaal toe toe haar hartklop styg en haar asemhaling stadig word.
Toetse en nog meer toetse is gedoen. Sy is getoets vir sistiese fibrose. Sy is getoets vir genetiese mutasies en breinskade. Niks van die toetse het antwoorde gegee nie.
Mauriche sê na vele spekulasies wil sy sê dat sy nie die Covid-19-inenting gehad het nie. “Ek wil net almal gerusstel dat ek geen inenting van enige soort gehad het terwyl ek swanger was nie. Ek was ‘n verskriklike versigtige swanger vrou, want ek wou net die beste vir my baba hê.”
“Lirie kan nie eers self hoes nie. Sy moet ’n prosedure ondergaan waar hulle die slym uit haar longe haal.”
’n Blad op Facebook, Baba Lirie en ’n Back a Buddy-blad is geskep om die familie met mediese kostes te help en almal op hoogte te hou van haar toestand.
“Sy benodig ’n toestel om haar te help hoes; sonder die toestel kan sy nie huis toe nie. Die masjien kos R100 00 en die medies dek dit nie.”
Mauriche vertel van Lirie se vyfjarige boetie wat “doodnormaal” is en dat Lirie waarskynlik nooit so ’n lewe sal ervaar nie. Lirie se ouers wil net hê hulle babadogtertjie moet gelukkig wees en nooit voel sy is anders nie.
Indien jy ’n bydrae kan maak om Lirie en haar ouers te help, klik hier.
LEES OOK: Vrou in uniform wou glo ‘hond langs pad los’
LEES OOK: ‘Jesus was langs my bed’ – Hanna vertel van geboorte toe sy amper sterf
Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.





