Genadedood vir 30 leeus na eienaar hulle glo na brand vir dood agterlaat

Deel hierdie storie / Share this story

VRYSTAAT. – Groot blase was op die afgebrande sole van die leeus se pote. Bloed het uit hulle wonde geloop. Die leeus se gesigte was gebrand en hulle kon nie eet nie as gevolg van die blase in hulle monde. Hulle longe het ernstige skade opgedoen as gevolg van die rook wat hulle ingeasem het. Die skade was so erg aan die longe dat die leeus in hul eie bloed begin verdrink het. Die hitte van die vuur het die leeus se oë laat bars. ‘n Mens kan jou nie indink in die pyn en lyding wat hierdie leeus moes verduur nie.

WAARSKUWING: Foto’s en beskrywing in die berig mag dalk sensitiewe lesers ontstel.

Dit is hoe Bloemfontein se DBV die toneel beskryf toe hulle leeus op ‘n plaas na die onlangse brande in die Glen-distrik ontdek het. Volgens die verklaring wat deur die DBV uitgereik is, het die eienaar van die plaas waarop hulle die erg beseerde leeus gevind het, hulle aanvanklik toegang geweier.

“Dit was ‘n duidelike aanduiding dat dit nie goed gaan op hierdie plaas nie. Die eienaar het geweet die leeus is deur die brande beseer. Vir vyf dae is hulle geen mediese behandeling toegedien nie. Ons het geen ander opsie gehad as om ‘n lasbrief te verkry om die eiendom binne te gaan nie. Wat ons gevind het, het ons tot op die been geskok. Toe ons die leeukampe binnegaan, kon ons net die vernietiging sien wat die vlamme agtergelaat het. Ons het by die leeukampe aangekom en ons harte het gebreek en ons siele het gehuil.”

Genadedood vir 30 leeus

Volgens die DBV het al die leeus in die kamp met hul pote na bo gedraai gelê. Hulle kon nie opstaan nie. Soos hulle probeer het om op hulle pote regop te kom, het hulle net weer omgeval. Die kampe was ook volgens die verklaring in ‘n haglike toestand.

“Geen elektriese heining, die struktuurpale was afgebrand en die heining het aan ‘n draad gehang met oop gapings en gate. Hierdie leeus kon maklik ontsnap, maar nie eers een het ontsnap nie. Hulle was te beseer, te swak. Ons het vinnig besef dat die eienaar nie meer omgee vir die leeus nie. Hy was nie bereid om finansieel te belê om te verseker dat die welstand van hierdie leeus op standaard was nie. Die eienaar het nie meer voorsiening gemaak vir kos vir die leeus nie. As beeste of ander wilde diere in die omgewing vrek, sou die plaaswerkers dit vir kos gaan haal. Hulle sou ook ‘n paar dooie hoenders van ‘n nabygeleë pluimveeboerdery kry. Die leeus moes dae aaneen sonder kos gewees het. Jy kon selfs party leeus se ribbe-, bekken- en werwelbene sien.”

Die verklaring sê veder die eienaar is verskeie waarskuwings gegee wat hy net “afgelag het”. ‘n Saak van dieremishandeling is teen die eienaar geopen.

“Ons moes genadedood op 30 leeus toepas. Ons het hul karkasse in die reën na ons voertuie gedra. Ons het elke leeu veras.”

LEES OOK: SKERMGREPE: 17-jarige deur boer doodgeskiet

LEES OOK: ‘Jesus was langs my bed’ – Hanna vertel van geboorte toe sy amper sterf

Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.