BOKSBURG. – Mense in die Boksburg-omgewing was die laaste tyd omtrent aan die praat oor tiere wat op ‘n perseel langs ‘n kleuterskool aangehou word. Die mense was veral bekommerd oor die veiligheid van die kinders wat hier skoolgaan.
Die DBV in Boksburg het in ‘n verklaring gesê hulle neem met kommer kennis van die onlangse navrae oor die tiere op ‘n Boksburg-eiendom wat langs ‘n kinderopvoedingsentrum gehou word.
“Terwyl ons die situasie ondersoek, moet daarop gelet word dat die DBV se jurisdiksie en gesag beperk is tot die beskerming van die diere ten opsigte van hul welstand en of daar wreedheid of mishandeling plaasvind. Die DBV ondersteun nie die aanhou van wilde diere in residensiële areas nie. Hoewel die publiek kommer kan hê oor die aanhouding in voorstede, verbied huidige wetgewing nie die aanhou van eksotiese diere in Suid-Afrika nie.”
Tiere op Boksburg-erf buite beheer van DBV
Die DBV verduidelik verder wilde diere wat nie van die wildernis of van Suid-Afrika afkomstig is nie, benodig slegs invoerpermitte en vervoerpermitte, maar daar is geen wetgewing wat toestemmings of permitte of lisensies vereis om eksotiese diere aan te hou nie.
“Alhoewel die Boksburg-DBV die veiligheidskwessies van omliggende en nabygeleë inwoners en die publiek in die algemeen in ag neem, kan dit slegs deur die polisie of Ekurhuleni- metro munisipaliteit hanteer word.”
Die DBV bedank verder die publiek vir hul besorgdheid oor die welsyn van hierdie diere, en soos met die ander tiere en eksotiese diere wat as troeteldiere in die Ekurhuleni-streek aangehou word, hou hulle dit so goed as moontlik dop om te verseker Wet 71 van 1962 oor die Beskerming van Diere, word nie oortree nie.
“Ons doen ook ‘n beroep op die publiek om ‘n beroep op hul plaaslike parlementslid te doen om wetgewing te verander, om eksotiese diere te beskerm wat vrylik in hul natuurlike omgewings behoort te bly.”
LEES OOK: Inligting gesoek na valskermswewer by Leeukop sterf
LEES OOK: Heilbron-boer dood deur plaaswerker aangetref
Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.



