Wat was die oorsaak van die NK-brande?

Deel hierdie storie / Share this story

Ongeveer 100 000 hektaar is vernietig in brande wat die afgelope week in die Noord-Kaap gewoed het.

Thinus Pretorius, senior bestuurder van die nooddienste-afdeling by die brandweer, sê in dié stadium is alle brande in die omgewing geblus. Daar woed glo naby Boshoff steeds ‘n brand, maar in Kimberley en sy onmiddellike omgewing is die brande geblus.

Hy sê die raming van 100 000 hektaar is deur Agri Noord-Kaap uitgewerk, maar omdat sommige boere nie by Agri Noord-Kaap geaffilieer is nie, kan die aantal hektaar wat vernietig is, moontlik meer wees.

Pretorius vertel daar het heelwat beeste, skape en wild doodgebrand en sommige van die verskrikte diere hardloop steeds in die omgewing rond. “Mense moet maar versigtig wees as hulle op die N12, N8 en Douglas-pad ry.”

Volgens Pretorius kon die spesifieke oorsaak van die brande nog nie vasgestel word nie en het die brand se oorsaak nie ‘n vaste beginpunt nie.

“Daar is baie vermoedens, soos dat dit miskien saakbeskadiging was, maar dis baie moeilik om vas te stel. Daar is ‘n saak by die polisie gemaak en kundiges op die gebied sal die saak ondersoek.”