‘n Gemeente is nou half herderloos na ‘n geveg met hul predikant.
En soos elders is dit ook maar weer die beswaardes teenoor die nie-beswaardes….’n dominee met sy ondersteuners en ‘n dominee met sy teenstanders.
Midde-in die geveg is ds. Eddie Leeuw, VGK-predikant te Steinkopf, in Namakwaland.
Hy (asook die kerkraad) is intussen deur die Ring geskors, sonder salaris. Ook moes hy die pastorie verlaat. Blykbaar weet baie gemeentelede nie regtig waarvoor nie.
Ds. Leeuw se vrou is ook onlangs in ‘n gru-ongeluk oorlede.
Die geveg in die kerk het so hand-uit geruk dat hordes gemeentelede verlede Sondag na die kerk opgeruk het. Hier was die kerklike woelinge op die spits gedryf tydens ‘n ontstuimige opelugvergadering oorkant die kerk. Kerkbroers en -susters het hier hul borste skoongemaak.
Omstanders vertel dat dit egter soos ‘n vuurwarm politieke debat gelyk en geklink het. “Gemeentelede het agter ‘n oop bakkie plek ingeneem en vuurwarm speeches gemaak. Kort-kort het van die ‘uiters moeilike’ gemeentelede hande geklap of met aggressie geantwoord op die stellings van een kerk-antie.”
In ‘n video kan gesien word hoedat hierdie antie soos ‘n presidentsvrou praat, dat die teerpad weergalm.
Mercia Cloete, lid van die kerk, het omgekrap gesê: “Hou op met groepe-vorming en strewe eerder na eenheid. Hier is ‘n geval van eenheid versus skeuring. Ons moet egter op ‘n respekvolle manier van mekaar verskil. Here, help!”
Volgens haar moet die ouer geslag persone wees na wie opgesien kan word. En moet hulle nie aan die voorpunt van sulke situasies wees nie. Sy voel verder dat die duiwel ‘ leuenaar is wat sommige mense gebruik, daarom is hulle nou so harteloos.
Intussen het ‘n brief uitgelek wat ‘n bekende gesoute en ondersoekende joernalis van Steinkopf aan die kerkraad gerig het.
Cathy Drage-Dlodlo, tans hoof van die nuus-afdeling by radio OFM, in Bloemfontein. “Oor Sondag se gebeure het ek my kop in skaamte laat sak. Die voortslepende tweestryd is ‘n skreiende skande vir die kerk, waarin ek opgegroei het. En behalwe dit, is ds. Leeuw nog stukkend van rou, nadat sy vrou verongeluk het.”
In die skrywe het Drage-Dlodlo ook by die kerkraad gepleit om die enkelinge te dissiplineer wat verantwoordelik is vir die skeuring van die kerk.
Volgens Drage-Dlodlo, het die kerkraad haar brief beantwoord. Hulle het ook te kenne gegee dat sy gerus maar op haar eie kan voortgaan met haar ondersoeke oor die woelinge.
Lea Bezuidenhoudt, die skriba, wou geen kommentaar lewer nie op navrae aan haar oor die skeuring.
Intussen het om Pieter de Klerk, woordvoerder, van die dagbestuur van die Steinkopf-kerkraad laat weet dat hy nie alleen namens hulle kan praat nie. Hy het voorgestel dat die media die dagbestuur persoonlik gaan sien op Steinkopf.
Leeuw het gesê dat hy tans besig is om sy vrou, Karen, se begrafnisreëlings te tref. Sy was op 31 Augustus in n gru-ongeluk betrokke. “Ek sal op ‘n latere stadium met die media praat. Tans ondersteun die gemeente en gemeenskap ons as gesin in hierdie moeilike tyd. Hiervoor het ons groot waardering.”
Daar sal Saterdag om 10:00 ‘n afskeidsdiens vir sy vrou, Karen, by die pastorie wees.
Volg FiND iT hier.



