Jasco Christen Uitgewers publiseer Christus die Groot Wins deur Wikus Maritz.
In Christus die Groot Wins nooi die outeur lesers om vir ’n wyle die fokus van onsself en ons eie belangrikheid te verskuif na die plan wat God vir die mensheid in plek gestel het. As ons dít doen, sal ons die geweldige grootheid kan begryp van God wat self aarde toe gekom het om Sy eie mensheid te kom loskoop van die verganklikheid. “Hierdie is ’n saak wat fundamenteel is tot lewensgeluk én ons lewenssukses. Want niemand kan homself losmaak van die feit dat hy ’n ewige wese is en dat sy lewenssukses daarvan afhang of hy deel is van God se familie in die ewigheid, of nie” (5).
Die agterbladteks lui: Hierdie boekie het twee doelwitte. Die eerste is om diegene wat nog nie met Christus verenig is nie, te bemagtig om Hom te vind. Die tweede is om diegene wat reeds die Heer dien nóg nader aan Hom te bring, en ook sodoende nuwe insigte te laat ontwikkel oor hoe om ander mense na Hom te lei.”
Wikus stippel die voordele uit om tot bekering te kom. Hy hou ook die eienskappe en gevolge van die groot verlies voor sou ’n mens nie gehoor gee daaraan om Christus te volg nie. Dan verduidelik hy meer oor sonde en die mens se natuurlike geneigdheid daartoe; hou die smal weg en die breë weg voor en vertel van die keuse wat elke mens het. Laastens wys hy daarop dat God se toorn oor die sonde net in Christus ontkom kan word. Op bladsy 68 hou hy Christus se oop uitnodiging aan die leser voor: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.” (Matteus 11:28-30)
Wikus lê basiese kernbegrippe oor die verlossingsboodskap op ’n maklike en verstaanbare wyse neer wat die boek ideaal maak vir die persoon wat maar pas ’n Christen geword het. Dit het egter oorgenoeg pitkos in vir die meer ervare Christen om ook vele lewenswaarhede opnuut te ontdek. Die teks word met sorg Skrifgetrou oorgedra.
Dit is interessant om te lees dat Wikus die inhoud van die boek eers as ’n seminaar aangebied het in Richardsbaai en dit daarna omskep het in ’n preekreeks vir gevangenes by die Groenpunt Maksimum Gevangenis naby Deneysville in die Vrystaat. Hierná het hy die manuskrip voorberei vir publikasie sodat die boodskap baie wyer verkondig kan word. Die inhoud is geskik om vir selfstudie of deur Bybelstudiegroepe bestudeer te word.
Christus die Groot Wins is ’n sagtebandboek van 73 bladsye en Skrifaanhalings is meestal uit die Afrikaans 1953-vertaling van die Bybel geneem. Dit is opgedeel in vyf hoofstukke getiteld “Die groot Wins”, “Die groot verlies”, “Die sondigheid van die mens”, “Die breë weg versus die smal weg” en “Die oplossing”.
Brittany Strozzo het gesorg vir die eenvoudige maar treffende voorblad wat drie kruise uitbeeld, die middelste een in goud en met strale omring. Wikus het self die bladuitleg gedoen – heel netjies met ruimte tussen die paragrawe en breë kantlyne vir aantekeninge. Die Skrifgedeeltes is skuinsgedruk en staan dus mooi uit. Die hoof-en subtitels is genommer en daar is ook voetnote ter verduideliking waar nodig. Ek het dit ’n gerieflike leeservaring gevind, maar het tog gevoel dat die skrifgrootte gerus maar groter kon wees.
Meer oor die outeur: Jasper Coetzee, ’n gereformeerde baptis met sy teologiese fondamente stewig geanker in Calvinisme, skryf onder die skuilnaam Wikus Maritz geestelike materiaal. Hy is ’n instandhoudingsingenieur wat ‘n professionele praktyk bedryf en ook ’n deeltydse dosent is aan die Universiteit van Pretoria. Dan is hy ook betrokke by industriële konsultasies en die opleiding van instandhoudingsmense. Lees hier meer oor sy sekulêre bedrywighede. Hy het ook al verskeie handboeke en artikels geskryf onder sy eie naam.
Bestel jou gedrukte kopie deur Marlize Opperman te skakel by 016 932 1629 of haar te e-pos by [email protected]. Jy kan ook die e-boek hier aanskaf op Amazon.



