September 16, 2021

Springbok-inwoners geskok seksslawerny-saak

Intussen het Namakwalanders hulle sterk uitgespreek teen die gebeure.

Springbok-inwoners geskok seksslawerny-saak

Springbok-inwoners geskok seksslawerny-saak foto: verskaf

Dit gebeur nou meer as gereeld dat jongmeisies as seksslawe gebruik word.

Die ontstellende nuus het hierdie week ook Springbok se inwoners uit hulle plattelandse slaap laat ontwaak. Dit, nadat die 37-jarige Leandre Williams in die Kaap verskyn het vir beweerde sekshandel met plaaslike meisies.

Volgens die staat het Williams en haar Kongolese man, Edward Ayuk, en haar swaer, Yannick Ayuk, ‘n soort bordeel in Milnerton, Kaapstad bedryf. Meisies van die Springbok-area is hierheen gelok onder die valse voorwendsel van werk. Hierna moes hulle hulle liggame verkoop en die geld aan Edward en Yannick gee.

Volgens die Valke op Springbok kom die saak al ‘n geruime tyd aan nadat meisies in April 2017 sake hier op Springbok teen Williams gemaak het.

“Ons het haar in Kaapstad gaan arresteer, nadat sy ‘n meisie aan een van ons agente verkoop het. Sy was skuldig bevind en beboet.”

Van die meisies wat weggekom of gevlug het, was verwagtend en die vermoede bestaan dat van hulle seksueel-oordraagbare siektes opgedoen het weens seks met verskillende mans.

Volgens ‘n bron na aan die ondersoeke was Williams ook na bewering later tot prostitusie forseer. Toe sy moeg hiervoor was, is sy glo Springbok toe om nog meisies te werf.

Drie van die meisies is van Matjieskloof, buitekant Springbok, een van Okiep (Skietbank) en die vyfde waarskynlik van Steinkopf of Komaggas afkomstig.

Hulle bly anoniem en sal teen die drie gaan getuig.

Williams en Edward het drie kinders. Vermoedelik is die kinders in ‘n plek van veilige bewaring geplaas wat onder die departement van maatskaplike dienste val.

Intussen het Namakwalanders hulle sterk uitgespreek teen die gebeure. Ander vertel dat Williams nie rêrig op Springbok grootgeword het nie.

‘n Inwoner van Matjieskloof het anoniem gesê: “Sy is eintlik van die Kaap, maar het hier met die prostitusie kom rondmors totdat die Valke haar toegesluit het. Sy was terug Kaap toe gestuur, maar het weer hierheen gekom.”

Ander plaaslike inwoners vertel dat sy op ‘n baie vroeë ouderdom uit Springbok na Kaapstad gegaan het om daar te woon. Haar familie bly in Namakwaland.

Williams en haar man, Edward, asook Yannick, moet weer op 13 Oktober in die Wes-Kaapse hooggeregshof wees. Hulle staan tereg op ongeveer 40 klagtes wat verband hou met prostitusie en die bedryf van ‘n bordeel.

Williams is tans uit op borgtog van R3 000.

Lees ook: Leer en beskerm jou kind teen seksuele misbruik

Volg FiND it op Facebook hier.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *