Leer en beskerm jou kind teen seksuele misbruik

Deel hierdie storie / Share this story

Die noodsaaklikheid vir ouers om hul kinders te leer en bewus te maak van onveilige situasies waarin hul seksueel misbruik kan word, word dringender namate die gevaar by plekke en mense waar hul aanvanklik verwag het om veilig te wees, toeneem. Leer jou kind die erns van seksuele mishandeling en wat om in sulke situasies te doen.

Alhoewel die volgende stappe nie kan verseker dat jou kind nooit seksueel aangerand of misbruik gaan word nie, verminder dit wel die kanse daarop.

Leer jou kinders die volgende om hulle te beskerm teen seksuele misbruik

Child Mind Institute het die volgende belangrike aspekte gedeel:

Leer jou kind die regte benaming vir liggaamsdele

Dit mag dalk nie vir jou as ouer gemaklik voel om jou jong kind die regte name vir sy of haar liggaamsdele te leer nie. Dit is egter belangrik dat kinders gemaklik voel daarmee om die regte benaming vir geslagsdele te gebruik vir as daar ooit iets sleg gebeur, hulle duidelik en gemaklik daaroor kan kommunikeer.

Leer jou kind dat sy of haar liggaam privaat is

Child Mind Institute sê dit is belangrik om jou kind te vertel dat sy/haar liggaam privaat is. Leer hulle dat geen mens behalwe sy/haar ouers hulle naak, sonder klere, mag sien nie. ‘n Dokter mag hulle naak sien, maar slegs in jou teenwoordigheid.

Vertel jou kind van liggaamsgrense

Leer jou kind dat niemand aan sy of haar privaatdele mag raak nie. Moet net nie vergeet om hulle te leer dat hulle ook nooit aan iemand anders se privaat dele mag vat nie. Baiekeer gebeur dit dat seksuele misbruik begin waar die misbruiker die kind vra om aan sy/haar geslagsdele te vat. Leer hulle ook dat niemand ooit foto’s van hul privaat dele mag neem nie.

Geen liggaamsgeheime word toegelaat nie

Vertel jou kind dis regtig nie goed om enige liggaamsgeheime van jou as ouer af weg te hou nie. Baie oortreders manipuleer kinders om die mishandeling ‘n geheim te hou. Jy moet jou kind vertel dat hy of sy geen geheime oor soiets mag hou nie. Jy moet hulle ook bewus maak daarvan dat dit kielierig of lekker kan voel wanneer iemand aan hulle liggaamsdele vat, maar dis steeds verkeerd.

Leer jou kind hoe om uit ‘n ongemaklike situasie te kom

Baie kinders weet nie hoe om uit ‘n situasie uit te kom nie en kan dikwels nie vir ‘n ouer persoon nee sê nie. Leer jou kind om ‘n verskoning te kry as hy of sy nie gemaklik voel saam met ‘n persoon nie. Hulle kan iets gebruik soos hulle moet die badkamer gebruik.

Kry ‘n kodewoord

Die volgende mag dalk nie so effektief wees met jonger kinders nie, maar vir ouer kinders kan ‘n kodewoord wat hulle kan gebruik om jou in te lig dat iets fout is, effektief wees. Hulle kan die kodewoord gebruik wanneer daar gaste by die huis is of selfs wanneer hulle oorslaap by iemand se huis.

Maak seker jou kinders weet hulle sal nie in die moeilikheid kom as hulle jou vertel wanneer enigiemand hierdie reëls breek nie

Leer jou kind dat dit veilig is vir hom of haar om met jou as ouer oor sy of haar liggaam te praat of oor ‘n reël wat gebreek is. Oortreders praat kinders bang en gebruik dit as ‘n strategie om kinders te dwing om stil te bly oor die mishandeling. Hulle sal hul manipuleer en vertel dat as hulle vir enigiemand sê, sal hulle ook in die moeilikheid wees.

Hierdie reëls geld vir almal

Jou kind moet bewus wees daarvan dat die reëls vir liggaamlike privaatheid vir almal geld, nie net vir vreemdelinge nie. Dikwels is dit nie vreemdelinge wat hierdie aan ‘n kind doen nie, maar ook mense wat hulle ken – familielede en selfs ander kinders.

Lees ook: 10 Maniere wat kinders geleer moet word