September 19, 2021

Voertuig beland binne-in selfoonwinkel

Baie inwoners is egter bly dat die voorval nie tydens normale besigheids-ure gebeur het nie.

Voertuig beland binne-in selfoonwinkel

Voertuig beland binne-in selfoonwinkel foto: verskaf

Saterdagaand was die vreemde “besoeker” ‘n Renault. Die ongelukkige besigheid was die MTN-selfoonwinkel op Springbok. Volgens inwoners hier het hulle die voertuig sien ry en toe ‘n slag gehoor.

Een het gesê: “Ons het die twee persone in die voertuig gesien. Waarskynlik die eienaar en ‘n dame. Hulle het met die hoofstraat, Voortrekkerweg, gery en toe deur die skuifdeur en traliehekke gebars. Dit lyk asof die kar gevlieg het.”

Ander het vertel dat die bestuurder van die Renault na die voorval weggehardloop het en nie op die toneel gebly het nie. Volgens betroubare inligting was daar geen ernstige beserings nie. Vir die kar en veral gebou was dit ‘n ander saak, want aansienlike skade is aangerig.

Baie inwoners is egter bly dat die voorval nie tydens normale besigheidsure gebeur het nie. Dis ‘n bedekte seën, meen hulle, anders kon MTN-personeel en kliënte ernstig beseer gewees het.

Die gebou behoort aan ‘n bekende sakeman wat ander geboue op Springbok besit. ‘n Dame, wat toesig hou oor die geboue, het die week vertel dat skade van etlike duisende rande aan die gebou aangerig is.

“Ons wag nog vir kwotasies sodat ons ‘n volledige skade- en kosteberaming kan doen. Dit is dus moeilik om te kan bepaal wanneer MTN weer sake kan doen.”

Sekuriteitswagte moes die gebou en voorraad oor die naweek oppas. Maandag is begin om die beskadigde deure en veligheidshekke te vervang.

Omstanders op die toneel het Saterdagaand ‘n video versprei wat verskriklike reaksie uitgelok het. Baie vermoed dat alkohol moontlik ‘n rol in die ongeluk kon gespeel het. Ander het spoed of swak oordeel die skuld gegee.

Verder is die plaaslike publiek geloof omdat hulle nie die onbewaakte plek kaal gestroop, beroof of besteel het nie, soos elders in die land gebeur.

MTN-personeel het Sondag die toneel opgeruim. Volgens hulle word nie ‘n enkele selfoon of ander items in die winkel vermis nie.

Eers volgende Donderdag sal MTN weer sake doen, het hulle vertel.

Volgens kapt. OlebogengTawana, polisie-woordvoerder, ondersoek die polisie ‘n saak van nalatige en onverskillige bestuur. Geen beserings is volgens hom rapporteer nie en die saak duur voort.

Lees ook: Hotelgroep gaan mooi aan ten spyte van bedrog en Covid

Volg FiND iT op Facebook hier.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *