Madelein Venter, wat Maandagoggend nog op Facebook gevra het dat mense haar na haar seun moet help soek, vertel hartseer van haar seun (23) se skielike dood.
Ryno Venter is Sondagaand op pad huis toe na ‘n kuier saam met sy vriende in ‘n motorfietsongeluk oorlede.
“Hy was Sondag saam met sy vriende uit. Hy het nooit op Sondagaande laat uitgebly nie. Toe hy teen 23:30 nog nie by die huis was nie, het ek een van sy vriende gebel om te hoor of hy op pad is huis toe.”
Madelein vertel dié vriend het vir haar gesê dat haar seun teen 22:30 al by die huis moes gewees het.
“Ek het daardie hele nag lank niks geslaap nie. Ek het heeltyd ‘geworry’ omdat my kind nie by die huis is nie. Hy moes Maandagoggend 06:00 begin werk, maar hy was steeds nie tuis nie.”
Venter vertel haar man se niggie is dié oggend verby die ongelukstoneel. “Sy het my gebel en gesê daar is wrakstukke na ‘n ongeluk, dele van ‘n bakkie se ‘canopy’ en stukke van ‘n motorfiets. Ek het vir haar gesê om my te kom haal sodat ek kon gaan kyk. Ek het toe reeds geweet.”
Venter sê sy het haar seun se broek en sy motorfietshelmet op die toneel herken.
“Hy het maar altyd ‘n stel ekstra klere saam met hom geneem.”
Venter sê die ongeluk het 22:30 Sondagaand plaasgevind. ‘n Ander voertuig met ‘n vrou agter die stuur was ook by die ongeluk betrokke. Hulle is beide op slag dood.
Venter sê Ryno het sy beursie onlangs verloor en daarom kon hy nie uitgeken word nie en is sy nie laat weet van sy dood nie.
“My seun was so ‘n geliefde mens. Hy het altyd gelag en hy het in soveel mense se harte ingeklim. Ryno was ‘n wonderlike kind.”
Venter sê daar is baie mense wat tans help met die nodige begrafnisreëlings.
Ontvang daagliks gratis, deurdagte, feitelike nuus! FiND iT het ’n lesersplatform van 300 000 lesers. Julle lees elke maand meer as 1 miljoen keer ons artikels. Om dit vol te hou en gratis te hou, steun FiND iT op advertensie-inkomste en ondersteuners.
As jy ’n ondersteuner van FiND iT wil word deur ’n maandelikse of eenmalige bydrae, stuur ’n e-pos aan [email protected].
FiND iT is ’n onafhanklike maatskappy, onder die vaandel van Dottry Media (Pty) Ltd en word privaat befonds.
FiND iT het ook sy eie interne ombudsman, Johan Retief, wat die voormalige ombud van Suid-Afrika is. Dus is jy verseker van gehalte nuus, heeldag lank, gratis.



