GQEBERHA. – ‘n Huiseienaar, 64, van Walmer het na bewering op drie verdagtes geskiet wat die naweek sy huis in Old Seaviewweg binnegedring het.
“Daar word beweer die man en sy vrou het die naweek saam met nog ‘n egpaar by hul huis in ‘n kompleks in Old Seaviewweg gekuier toe hulle omstreeks 20:30 na bewering deur drie onbekende mans in hul huis genader is,” sê Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder.
Terwyl die groep in die sitkamer gekuier het, het hulle glo gesien hoe die mans hulle van die gang af nader. Twee van die verdagtes was glo met koevoete gewapen terwyl die derde een ‘n mes gehad het. Een van die verdagtes met ‘n koevoet het na bewering een van die mans aangeval deur hom met die koevoet aan te val. Die tweede verdagte, ook gewapen met ‘n koevoet, het die klaer aangeval deur hom oor die kop te slaan.
Naidu sê verder die huiseienaar het toe daarin geslaag om sy gelisensieerde vuurwapen te gryp en glo skote op die verdagtes af te vuur. Die verdagtes het daarna te voet gevlug.
Liggaam gevind, na huiseienaar glo op verdagtes skiet
Terwyl die polisie nog die huis deursoek het, het buurtwaglede hulle meegedeel ‘n lyk lê in die bosse, nie ver van die huis waar die huisroof was nie. Die oorledene het ‘n skietwond aan sy bors opgedoen.
Polisie ondersoek ‘n moontlike verband tussen die huisroof en die oorledene. Die huiseienaar se vuurwapen is gekonfiskeer vir ballistiese ontleding. Niemand is in hegtenis geneem nie. ‘n Saak van poging tot huisroof en moord word ondersoek.
LEES OOK: Ma wat glo drie kinders vermoor, ‘kalm’ in hof
LEES OOK: Drie jong Suid-Afrikaanse sussies in Nieu-Seeland dood
Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.



