September 23, 2021

Louzanne Coetzee: ‘Harde werk en dissipline ‘pays off’!

Louzanne Coetzee: 'Harde werk en dissipline 'pays off'!' (Foto: Super Sport)

Louzanne Coetzee: 'Harde werk en dissipline 'pays off'!' (Foto: Super Sport)

Bloemfontein Online Co. gesels met die 28-jarige Louzanne Coetzee wat Suid-Afrika vanjaar by die Paralimpiese Spele in Tokio verteenwoordig het. Louzanne het op universiteit eers met atletiek begin en lag as sy vertel sy het eintlik net besluit om aan die atletiek by die universiteit deel te neem om die eerstejaarsvergadering verby te kry.

By vanjaar se Paralimpiese Spele in Tokio het Louzanne ’n silwer medalje in die vroue 1 500 m verower en Sondag ook ’n brons medalje in die vrouemarathon.

Louzanne, wat weens Leber se siekte blind gebore is, vertel sy het nooit ernstig op skool geoefen nie. Sy het wel drie keer per week in die skool se gimnasium deurgebring, maar nooit ernstig geoefen nie.

Louzanne was in die Hoërskool Pionier op Worcester en sê die grootste uitdaging op skool was om so ver van haar ouers te wees. Louzanne se ouers en haar sussie, Anmari, woon in Bloemfontein.

“Ons het in die eerstejaarsvergadering gesit en ek wou die vergadering net verbykry, toe bied ek aan om aan die atletiek deel te neem. Ek het toe deelgeneem en daarna afrigting gekry. My afrigter het destyds vir my gesê hy gaan met my ’n weddenskap aan dat ek in 2016 aan die wereldkampioenskap sal gaan deelneem.”

“Op universiteit was my grootste uitdaging om nie aan die koshuis of die universiteit te kon teruggee wat netbal of hokkie betref nie. Die atletiek het dit vinnig verander!”

Louzanne sê sy en haar gidse, Estean Badenhorst en Claus Kempen, het in Mei met die laaste siklus se oefening begin voor die Spele wat vanjaar in Tokio plaasgevind het.

“Ons het nooit regtig opgehou oefen nie. Na die Spele verlede jaar uitgestel is, het ons maar aangehou oefen.”

Louzanne doen ses keer per week hardloopoefeninge en drie maal per week kragoefeninge en spoedwerk-intervalle. In haar vrye tyd geniet sy ’n goeie boek, ’n goeie fliek en omdat sy die buitelug so geniet, is sy ook mal daaroor om te gaan stap.

Sy vertel haar grootste ondersteuningsnetwerk is haar ouers, haar sussie en haar kêrel. Haar gidse se families speel ook ’n groot rol in haar lewe en sy sê dis vir haar ongelooflik om te weet die hele Suid-Afrika is tans ook deel van haar ondersteuningsnetwerk.

Louzanne se toekomsplanne is om vir die 2024 Spele wat in Parys sal plaasvind, te begin oefen. “Persoonlike doelwitte is dalk om weer te begin studeer.” Louzanne het reeds kommunikasiekunde aan die Universiteit van die Vrystaat studeer.

“Dis belangrik om nooit toe te laat dat jou uitdagings jou onderkry of terughou nie. Pak hulle bietjie vir bietjie aan. Harde werk en dissipline pays off!”

Lees ook: Drie vroue publiseer gebedsjoernaal vir vroue

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *